Grey-musiekfees bevorder musiek onder Suid-Afrikaners

0
925

ALZANE NARRAIN

Vanjaar se FNB Grey Kollege-musiekfees sal nie net vir oud en jonk ‘n voorreg wees nie, maar ook vir minderbevoorregtes. Die feesverrigtinge strek oor twee dae en skop op 30 Augustus by die Sand du Plessis-teater af. Kinderhuise en ouetehuise in Bloemfontein sal die geleentheid kry om die skouspel tydens die kleedrepetisie, ‘n dag voordat die fees begin, by te woon.
Volgens Johan Grobbelaar, organiseerder van die musiekfees, wil die skool dit moontlik maak vir die kinders en bejaardes om te deel in die ervaring en so ‘n bietjie vreugde in hul lewe bring.
Seremoniemeester Rufus Botha, is baie beïndruk met die organiseerders wat op hierdie wyse minderbevoorregtes insluit in die FNB Grey Kollege-musiekfeesprogram.
"Vir my is dit baie spesiaal om te weet Grey Kollege nooi mense wat onder normale omstandighede nooit die geleentheid sou kry om deel te wees van ‘n kultuuraand nie na hul musiekfees," sê Botha.
Die musiekfees is in 1982 op inisiatief van dr. Michau Heyns, voormalige skoolhoof van Grey Kollege, begin en was bekend as die Grey Kollege-koorfees. Vir langer as 20 jaar was die koorfees die gasheer van topkore regoor Suid-Afrika.
"In 2005 het ons besluit om die naam te verander na die FNB Grey Kollege-musiekfees en die wye verskeidenheid musiektalent waaroor die skool beskik verder te benut deur saam met topkunstenaars in
Suid-Afrika op te tree.
Ons het hierdie jaar meer as
1000 Grey-seuns wat saam met die gaskunstenaars op die verhoog gaan wees," verduidelik Grobbelaar.
Hierdie jaar se gaskunstenaars sluit legendariese sanger en skrywer Jak de Priester, die baie talentvolle Caroline Haasbroek en die welbekende Valiant Swart in.
Celeste Venter, hooforganiseerder van die FNB Grey Kollege-musiekfees, sê hulle is baie opgewonde oor die gaskunstenaars wat vanjaar optree. Repetisies vorder goed en hulle kan nie wag vir die tyd om aan te breek nie.
Volgens Grobbelaar is die doel van die FNB Grey Kollege-musiekfees die ontwikkeling van musiek onder die jeug en Suid-Afrikaners.
alzane@centralmediagroup.co.za