Grey kanselleer Steve se konsert

0
2468
'n Leser is ongelukkig omdat Steve Hofmeyr by Grey-kollege sou optree.

‘n Konsert waarin Steve Hofmeyr by Grey-kollege sou optree, is gekanselleer.
Die hoof van die Laerskool Grey-kollege, mnr. JJ Geldenhuys, het bevestig dat die konsert gekanselleer is omdat daar geen toestemming deur hom as skoolhoof verleen is nie, en omdat die idee nie aan die Beheerliggaam van Grey-kollege voorgelê is vir goedkeuring nie. “Indien ouers projekte beplan of wil reël, soos byvoorbeeld geldinsamelings, sport- en sosiale geleenthede, is daar prosedures wat gevolg moet word. Ons ouers het goed bedoel, maar die regte kanale en prosedures is nie gevolg nie,” het Geldenhuys verduidelik.
Volgens bewerings kom die kansellasie nadat daar druk van buite was om die vertoning te kanselleer. Die skoolhoof het bevestig dat die konsert al op 28 Februarie gekanselleer is, nog voordat enige bemarking vir die konsert begin het.
Bloemfontein Courant het klagtes van ‘n leser, Desmond Bailes, ontvang dat dit onregverdig en rasisties sou wees as daar voortgegaan word met die konsert. “Aangesien Grey-kollege ‘n openbare, befondsde skool is met baie swart leerders, is die vooruitsig om Meneer Hofmeyr te ontvang onsensitief vir swart leerders,” het Bailes gesê.
Hofmeyr gaan wel op 23 Maart by Innie Skuur optree. Hy het in 2017 sy nuutste album, Skree, bekendgestel.

JERETHA OOSTHUIZEN
jeretha@mahareng.co.za