E Copy

Date:

Grey en Oranje wen VS o.18-hokkiebekers

Die Hoërskool Grey-kollege en die Hoër Meisieskool Oranje is Saterdag in Bloemfontein op die Vrystaat skolebeker-toernooi gekroon as onderskeidelik die Vrystaat se o.18-seuns- en o.18-meisies-hokkiekampioene vir 2016. En, hulle het dit met die grootste gemak vermag.

Dit wil voorkom of Grey se onder 18’s vanjaar met ‘n nuutgevonde passie gespeel het. Dit nadat dié span vroeër vanjaar besluit het om vir welsyn te speel en nie ‘n borgskap nagejaag het nie. Hulle het besluit om vir Child Welfare Bloemfontein & Childline Free State te speel en met dié welsynsorganisasie se kenteken in 2016 op hul truie uit te draf.

Grey se span het individue en besighede genooi om sy span per doel in alle wedstryde te borg, en die manne van Grey het die doele behoorlik ingeryg. Daar is meer as 100 doele aangeteken en Grey het onlangs ‘n reusebedrag van R50 000 aan Child Welfare oorhandig wat hulle op dié wyse bymekaargemaak het.

Terug by Saterdag se Vrystaat skolebeker-toernooi – Grey het behoorlik amok gemaak. In die Grey-ysters se wedstryd teen die Hoërskool Kroonstad het hulle laasgenoemde met 3 – 0 verslaan, danksy Kosie Kritzinger, Brendon York en Loanko Pieters wat die agterkant van die doelhok getref het. Toe tree St Dominic (Welkom) teen Grey aan en kry ‘n goeie drag slae (6 – 0). Brandan Forsyth (1), Jannes Eloff (1), Louis James (1), Trevor de Lora (2) en Jacques van Tonder (1) het vir Grey met doele getref..

Daarna was Voortrekker (Bethlehem) aan die beurt en hulle kry pak met die telling 9 – 0. Grey se doele het gekom van Kritzinger (1), Gary Dykman (1), Forsyth (1), Brendan York (2), Van Tonder (2) en Loanko Pieters (2), en dit was meer as genoeg om Grey as kampioen te kroon.

Oranje se onder 18’s was op die oorlogspad. Dié span, wat allerweë beskou word as die beste in hul afdeling in Suid-Afrika, het Witteberg (Bethlehem) aanvanklik verslaan met 4 – 0 nadat Simoné Gouws (1), Minke van Heerden (1) en Jana Stuart (2) getref het. Daarna was dit St Dominique wat ‘n loesing gekry het.

Oranje het hulle geklop met 10 – 0 nadat Minke van Heerden vyf doele aangeteken het en Carienke Jacobs twee. Lizanne Jacobs (1) en Jana Stuart (2) het ook hul stempel afgedruk met puik doele. Die Hoërskool Sasolburg was daarna aan die beurt om ‘n bloedneus van Oranje te ontvang. Oranje, met Van Heerden se agt doele wat die fut uit die Sasolburgers gehaal het, asook Stuart se twee doele en ‘n doel deur Simoné Gouws, het aan die sterre van Oranje ‘n wegholoorwinning van 12 – 0 besorg.

Oranje het skoonskip gemaak op die Vrystaatbeker-toernooi deur boonop die o.14- en o.16-adfelings te wen.

Grey het die o.14-afdeling ook sy eie gemaak terwyl St Andrew koning gekraai het in die seuns o.16-ouderdomsgroep. – RUFUS BOTHA

Share post:

Popular

More like this
Related

Free State Premier to deliver annual address at Traditional and Khoi-San Leaders’ House Opening

Free State Premier MaQueen Letsoha-Mathae is set to deliver...

Wanneer ’n Groot Boom Val! – ’n Roerende huldeblyk aan onderwysers

Die invloed van onderwysers op die lewens van hul...

William Hlakoane to receive Honorary Doctorate from CUT

The Central University of Technology, Free State (CUT) will...

Department of Home Affairs unveils major upgrade

The Department of Home Affairs has announced a significant...