Grey beïndruk in eerste wedstryd van seisoen

0
1698
Die losvoorspeler, Sisonke Vumazonke, lei die Grey-kollege eerste span op die veld teen Welkom Gimnasium vir die eerste wedstryd van die 2020-seisoen. FOTO: MORGAN PIEK

Die skolerugby-reus in Suid-Afrika, Grey-kollege, het Saterdag hul 2020-veldtog vir ‘n derde opeenvolgende onoorwonne jaar op ‘n hoë noot afgeskop toe hulle Welkom Gimnasium met 69-33 in Bloemfontein laat les opsê het.

Dit was ‘n geskiedkundige dag vir Grey aangesien die skool se eerste rugbyspan vir die eerste keer deur ‘n swart speler aangevoer is. Die agtsteman, Sisonke Vumazonke, het die span op die veld gelei, hoewel hy nog nie die span se amptelike kaptein is nie. Die amptelike kaptein sal eers na die tweede wedstryd, wat dié naweek plaasvind, gekies word.

Nietemin was die woelige Vumasonke deur die spelers as leier gekies, dit ook op meriete.
Die tuisspan het nie minder nie as tien keer oor die doellyn gaan kuier, en was teen die omdraaislag met 38-7 voor. Gimmies het egter tydens die tweede helfte baie beter balbesit geniet en hul kaptein, Keke Morabe, het gewys waarom hy so soveel lof as speler verdien.

Hoewel dit die eerste wedstryd van die seisoen was en daar natuurlik dinge was waaraan hulle kan werk, sal Grey vanjaar weer eens moeilik gestuit word. Daar is baie positiewes vir die span, bv. die losskakel, Jean Smith, seun van die oud-Springbok Franco Smith, wat voorheen die Cheetahs geslyp het en tans nasionale afrigter van Italië is. Hoewel dit sy eerstespan-buiging was, het Smith 24 punte vir sy span aangeteken, wat ‘n drie ingesluit het, terwyl hy ook bewys het dat hy dodelik akkuraat met die skopstewel is.

Die loskopstut, Juann Else, was ‘n handvol vir sy teenstanders en hy het selfs ‘n drie onder die pale gedruk.

Agterlangs het die twee vleuels, Franco Knoetze en Joubert Schoeman, beïndruk met hul spoed en goeie werkverrigting.

Daar is wel ‘n paar spelers uitgesonder, maar daar kan nie gesê word dat daar spelers was wat nie hul kant gebring het nie.

Grey speel Satedag in Bloemfontein in hul tweede wedstryd van die seisoen wanneer hulle teen die Hoërskool Duineveld van Upington uitdraf. Aanstaande week speel hulle in hul eerste twee wedstryde van die jaar wanneer hulle in Pretoria teen die Hoërskool Menlopark (Pretoria) sowel as die Hoërskool Dr. E.G. Jansen (Boksburg) te staan kom. – MORGAN PIEK