Sedert die stigting van Grey Kollege in 1855 het die skool homself reeds verskeie kere bewys as ’n opvoedkundige instansie wat daarna streef om balans te handhaaf en dit in die meeste gevalle reg te kry. Die afgelope vakansie is hierdie stelling weer reg bewys.
Die bekende Indomitus-sanggroep van die skool het deelgeneem aan twee internasionale kompetisies vir vokale ensembles in Bratislava, Slowakye en Praag in die Tjeggiese Republiek.
In Bratislava is dié groep bekroon met ’n goue sertifikaat en ’n gemiddelde punt van bokant 90%. In Praag het hulle selfs beter presteer en die kompetisie algeheel gewen teen deelnemers van onder andere Rusland, die gasheerland, Pole, Singapoer en selfs Australië. Die trofee van Boheemse kristal pryk in die skool se trofeekas. Op die sportveld het Grey nogmaals bewys dat die skool met reg as een van die vooraanstaande skole in die land beskou kan word. Die Vrystaatse waterpolospan, met so te sê ’n voltal Grey-spelers, het die B-afdeling by die Suid-Afrikaanse skoletoernooi gewen.
EW Viljoen en Marius Louw is gekies vir die Suid-Afrikaanse skole sewesrugbyspan, wat aan die begin van die jaar in Australië deelgeneem het. Vassili Orros is ook in die vakansie gekies as lid van die SA Skole-krieketspan. Dit was dus nóg ’n suksesvolle sportvakansie vir Grey. Tussen al die ander aktiwiteite deur het die matrieks van 2012 dus daarin geslaag om steeds baie verdienstelik te vertoon in die eindeksamen. ’n Baie besige jaar lê voor vir die 1 180 leerders van Grey. Die eerste hokkiespan onderneem in Maart en April ’n toer na Duitsland, België en Nederland. Verskeie hoogtepunte op die kultuurkalender wag, onder andere die hoogaangeskrewe Grey Musiekfees in Augustus. Deur die loop van die jaar is daar ook verskeie groot interskole kragmetings teen Affies (Pretoria), Paul Roos Gimnasium en Glenwood van Durban.
Een ding is seker – by Grey Kollege is balans nie onderhandelbaar nie.