Gratis velkanker-sifting vandag

0
1987

Die Velkankerstigting van Suid-Afrika (SCFSA), ‘n onafhanklike, self-befondste organisasie wat verbind is tot die voorkoming van velkanker, bied op Vrydag 1 September ‘n nasionale velkanker-siftingsdag aan waardeur 10 mense vir ‘n gratis sifting by elke deelnemende dermataloog in hul dorp of stad kan gaan.
Die hoofdoelwit van die nuutgestigte SCFSA is om ‘n omvattende voorkomingstrategie vir velkanker vir Suid-Afrika te vestig. Hierdie program sal fokus op verskeie strategieë, wat insluit opvoeding, voorkoming en behandeling.
Volgens die Nasionale Kankerregister van Suid-Afrika se jongste syfers is basaalselkarsinoom, ‘n tipe velkanker, die mees gediagnoseerde kanker by mense, terwyl melanoom en plaveiselkarsinoom ook gereeld by pasiënte voorkom.
Die hoofoorsaak van velkanker is die son. “Jy móét jouself teen die son beskerm. Moenie in die middel van die dag in die son wees nie, dra ‘n hoed en ‘n donkerbril, gebruik sonskerm en dra sonbeskermende klere,” sê dr. Erich Bam, ‘n dermataloog by Mediclinic Bloemfontein.
Hy beveel aan dat mense elke twee tot drie ure sonskerm aanwend wanneer hulle aan die son blootgestel is, aangesien dit is hoe lank sonskerm effektief werk na ‘n enkele aanwending. “Hoe ligter die vel, hoe groter die risiko vir velkanker,” sê Bam.
Slegs deelnemende dermatoloë bied ‘n gratis sifting aan. Alle ander dermatoloë kan ook die sifting doen, maar dan sal ‘n fooi van toepassing wees.
Tydens die gratis besoek word slegs die sifting vir velkanker uitgevoer. Geen behandeling van letsels sal onderneem word deur die dermatoloog nie, en geen ander veltoestande soos aknee en ekseem sal geassesseer word nie. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za