Gratis maskers vir die wat nie het nie

0
261
Dr. Jeanine Nothnagel

In ’n tyd waarin almal ’n masker benodig om hulself te beskerm teen die Coronavirus, wat soveel lewens bedreig en ontwrig het, het dr. Jeanine Nothnagel dit op haarself geneem om in haar vrye tyd maskers te maak en dit gratis op straat te versprei aan diegene wat nie het nie, of wie se masker nie meer op standaard is nie. Nothnagel het aan die Bloemfontein Courant gesê dat die masker-idee ongeveer in die vierde week van inperking ontstaan het.

“Almal was besig om kospakkies uit te deel, en dit het my laat dink aan mense wat nie maskers kan bekostig nie. Toe maskers verpligtend raak, het ek besluit ek gaan al die materiaal wat reeds vir lank in my kas lê, gebruik vir maskers en so ’n bydrae lewer om ander te help,” sê sy.

Nothnagel deel maskers
uit aan werkers wat
besig is om te oes.

Sy vertel dat sy niemand anders het wat haar help met die maak van die maskers nie, en dat sy op ’n Singer-masjien wat meer as 30 jaar oud is, werk. Sy sê ook dat sy ten minste genoeg lap gehad in die begin en toe die inperking verslap, het sy dadelik na materiaalwinkels gegaan en nog lap gaan koop.

“Dit was so lekker om te kies uit die groot verskeidendheid lap wat beskikbaar was.” Soos wat sy die maskers voltooi, plaas sy dit in plastieksakkies, hou dit in haar kar en deel uit waar sy oral ry. “As ek iemand sien wat nie ’n masker dra nie, sal ek sommer stop en vra of hy/sy ’n lapmasker nodig het. Indien wel, gee ek hulle ’n keuse van watter een vir hulle mooi is. Mense vra dadelik wat dit kos en as ek sê nee, dit is verniet, kyk party my ongelowig aan en is hulle verbaas om dit net te kan ontvang.”

Nothnagel sê, “Die inspirasie om die maskers te maak, spruit uit die agtergrond van my werk. Ek beweeg daagliks tussen die armste mense van ons metro en ek weet om R30 of meer uit te haal vir ’n masker, is vir baie mense nie moontlik nie. Dit is vir my lekker om my handewerk op mense se gesigte te sien en te weet ek kon ’n bydrae lewer om te verseker dat mense veilig is in hierdie moeilike tyd.”

Volgens Nothnagel sal sy aanhou om die maskers te maak vir solank moontlik. “Ek het die patroon by my buurvrou gekry nadat sy ’n paar maskers gemaak het. Die maskers kos tussen R5 en R10 om te maak en vir my is dit ’n klein bydrae tot die Covid-19-pandemie.”

Heidre Malgas

heidre@mahareng.co.za