Waterverbruikers in Mangaung-metro moet nou, ondanks die reën wat Vrydag in sekere sentrale dele van die Vrystaat geval het, meer as ooit vantevore water bespaar. Volgens DA-raadslid en waterkenner van Mangaung, Rossouw Botes, is daar groot dankbaarheid vir elke druppel reën in Bloemfontein en omliggende gebiede, maar dit is geensins genoeg om die knellende droogte te breek nie.
Michael Nethavhani, weervoorspeller van die Bloemfonteinse weerkantoor, het gesê sowat 17mm reën is Vrydag by die lughawe buite die stad gemeet. Op verskillende plekke in die stad en omliggende gebiede is meer reën gemeet. Botes meen waterverbruikers is nie beter af nie omdat dit nie genoeg in belangrike opvanggebiede gereën het nie. Die damme wat die metro van water voorsien, se vlakke is steeds baie laag. Volgens sy inligting dui die nuutste syfers oor die stand van damme aan dat die Knelpoortdam ná Vrydag se reën slegs 35% vol is. Die Rustfonteindam is tans 20,2% vol en die Welbedachtdam staan op 66%. Laasgenoemde is egter hoofsaaklik toegeslik. Botes glo die provinsie staar steeds ‘n waterkrisis in die gesig, al het die metro daarin geslaag om die afgelope vier maande, sedert waterbeperkings in Julie plaaslik ingestel is, maandeliks 15% water op sy totale verbruik te bespaar. Inwoners het hul kant gebring, maar ‘n groter poging is nodig om water spaarsamig te gebruik. Volgens hom moet meer water bespaar word as gedurende die afgelope vier maande om te voorkom dat daar later geen water beskikbaar gaan wees as dit nie genoeg reën nie. Daar word gemiddeld sowat 25 miljoen liter water per dag in die metro gebruik, het hy gesê.
Daar was verlede week groot verwarring oor die instelling van beurtwater in die metro nadat Butana Komphela, LUR vir Polisie, Paaie en Vervoer en voorsitter van die gesamentlike provinsiale droogtebestuursentrum, aangedui het beurtwater kan spoedig oor die provinsie heen in werking gestel word. Hy het verlede Maandag aan Bloemfontein Courant gesê beurtwater is ‘n realiteit in die Vrystaat. Woordvoerder van dié departement, Hillary Mophethe, kon nie Komphela, wat toe reeds na die buiteland vertrek het, se aankondiging bevestig dat beurtwater al verlede week saans tot soggens oor die provinsie heen sou geld nie. Die mediaverklaring wat verlede Donderdag deur Pulani Tsupane, woordvoerder van die Vrystaatse premier, Ace Magashule, namens die Vrystaatse Provinsiale Regering se Kommunikasietaakspan vir droogtehulp uitgereik is, is Dinsdag op ‘n inligtingsessie van die provinsiale regering in die stad herhaal. Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Olly Mlamleli, het op dié geleentheid weer daarop gewys dat strenger stappe gedoen gaan word om water te bespaar en waterbronne te beskerm. Sy het gesê droogtetoestande het die regering genoop om ‘n veldtog te begin om gemeenskappe op te voed.
Luidens dié verklaring is die Mangaung-metro een van altesaam 20 munisipaliteite in die provinsie wat deur watertekorte geraak word. Dit sluit munisipaliteite soos Mantsopa, Dihlabeng en Ngwathe in. Daar is ook aangedui dat Magashule die Vrystaat reeds op 3 September tot rampgebied verklaar het. Mlamleli het gesê daar is noue samewerking tussen die Departement van Water en Sanitasie, munisipaliteite, boere, gesondheid- en opvoedkundige instellings en nywerhede om ‘n krisis te voorkom indien daar ‘n algehele onderbreking van beskikbare watervoorraad in die provinsie is. Mlamleli het ook verwys na ‘n aankondiging deur Komphela op 13 November waarin hy dit duidelik gestel het as besparingsmaatreëls nie nagekom word nie, die regering watergebruik oor die provinsie heen tussen 21:00 en 05:00 daagliks sal instel. Die provinsie het verlede week minder as 30 dae se watervoorraad beskikbaar gehad. Die vermorsing van water en waterbeperkings wat nie nagekom word nie, sal die situasie vererger. Die Fika-Patso-dam in Qwaqwa is besig om op te droog. Mlamleli het gesê dié dam, wat op die oomblik slegs 20% vol is, voorsien water aan sowat 80% van die inwoners van die Thabo Mofutsanyana-distrik.
Mlamleli het verlede week bevestig dat die Moqhaka-munisipaliteit wat Kroonstad, Steynsrus en Viljoenskroon insluit, reeds beurtwater toegepas het. Sy het Dinsdag aan die media gesê die besluit om beurtwater in die provinsie toe te pas gaan deur munisipaliteite self geneem moet word. Hulle sal verantwoordelik wees vir die instelling daarvan en as die proses nie vlot verloop nie, sal die provinsiale regering ingryp. Daarmee saam moet inwoners op die hoogte gehou word van die proses. Die media gaan ook gebruik word om inligting deur te gee. – Christal-Lize Muller
christal-lize@centralmediagroup.co.za