’n Graad 2-leerder by Fichardtpark Primêre Skool, Imke Labuschagne, hou volgens haar oupa, Duart Hugo, van kleins af nie van rommelstrooiing nie.
Hugo is die voorsitter van die Fichardtpark Woonbuurt Assosiasie (FWA) en hy voeg by dat Imke al van kleins af geleer is om nie rommel te strooi nie en om die regte materiale te herwin wat tuis weggegooi word.
“As sy in ’n winkelsentrum papier sien lê, sal sy dit optel en in ’n vullishouer plaas. Sy sien ook wat ons as die FWA doen om te herwin. Haar ouma Tolla is ook ’n groot motiveerder wat haar op haar ‘patrollies’ vergesel,” het Hugo gesê.
As gevolg van haar oupa se agtergrond in herwinning, is die grondslag gelê vir haar ma, Elmie Labuschagne, wat die kennis dan oordra. “Die rommel in die omgewing het ’n negatiewe impak op biodiversiteit (lewende organismes) en waterdreineringstelsels. Die rommel wat langs die paaie gegooi word, beland op die ou end in die see en is ’n bedreiging vir die lewe in die see,” vertel Hugo.
Hugo sê ook dat Imke graag deur haar optrede ’n voorbeeld stel nie net vir die kinders nie maar ook vir die grootmense. Haar woorde is altyd: “Ek kan nie verstaan hoekom kinders so mors nie, en ook die grootmense, dit lyk so lelik!”

Hugo noem dat as grootouers, is hulle regtig trots op haar wat so lief geraak het vir die natuur en die omgewing. “Steek asb jou medeleerders aan om ook ’n voorbeeld te stel om die omgewing volhoubaar te bestuur, al is jy nou eers in graad 2,” is sy boodskap aan sy kleindogter.
“Kinders is die toekoms van ons land en ouers moet ’n voorbeeld stel. Dit is jammer dat die grootmense van vandag nie regtig vir die omgewing omgee nie en vir hulle ’n vuil omgewing wil agterlaat,” sluit Hugo af.
Justine Fortuin