Goue drome vir Bobbies-rugby

0
464
Bobbies reis die naweek na Johannesburg om Raiders-klub in die gesig te staar. FOTO: Verskaf

Die land se premier klubrugby-toernooi, die Gold Cup, het verlede naweek regoor die land afgeskop, en die Bloemfonteinse Polisie Rugbyklub (Bobbies) het teen die Louis Trichardt-klub van Limpopo gespeel vir ’n kans om deel te wees van die volgende rondte van die kompetisie.

Bobbies het tuisvoordeel gehad, terwyl Louis Trichardt ’n 800km-reis moes voltooi vir die wedstryd. Ronnie Bester, voorsitter van die Bloemfonteinse span wat weke gelede die plaaslike liga gewen het, het vertel dat die wedstryd baie goed gegaan het. “31 – 24 was die eindtelling, dit het baie goed gegaan,” het hy gesê.

“Wat mooi geloop het die naweek is dat ons geen ernstige beserings gehad het nie. Ons het as ’n span gespeel en ons wil net vir die mense wat uitgekom het dankie sê vir hul ondersteuning,” het Bester vertel.

Hierdie naweek speel Bobbies teen Raiders-klub van Johannesburg, in die Stad van Goud, waar die Vrystaat-kampioene hoop om nog ’n tree nader aan die Gold Cup-trofee te gee. “Ons sien uit na die wedstryd die naweek teen Raiders in Johannesburg,” het Bester gesê, “hulle bring ’n heel nuwe uitdaging vir ons, ons weet nie veel van mekaar af nie.” Bester vertel dat dit vir die span baie beteken om in die kompetisie te vorder. “Om in die top-16 klubs in die land te lê bly ’n groot voorreg en ’n groot eer,” het hy gesê.

“Ons wil graag die Polisie en die Vrystaat se naam gaan hoog hou die naweek.” Bobbies speel Saterdagmiddag om 15:00 in Johannesburg en hoop om die uitdaging teen die Raiders te kan weerstaan

Warren Hawkins
warren@mahareng.co.za