Goue Beker ontketen ’n rugbyoorlog

0
624
GEORG VAN ECK
Daar gaan veldslae en skermutselinge wees, maar wie die oorlog gaan wen, kan moeilik voorspel word, want die deelnemende troepe weeg goed teen mekaar op.
Dit is nie ’n militêre stryd nie, maar ’n rugbyoorlog tussen die ses topspanne om die gesogte Absa Curriebeker en prysgeld van R1.8 miljoen.
Die Toyota Vrystaat-Cheetahs het die eerste kragmeting op Ellispark teen die Goue Leeus naelskraaps 30-29 gewen, terwyl hul buurman en vennoot in Superrugby, Griekwas, verras het deur die Haaie in Durban 32-30 te klop.
Dit was ook so hittete of die verdedigende kampioen, Westelike Provinsie, het op Nuweland slae gekry. Die Streeptruie moes veg om die jong Blou Bulle te stuit vir ? gelykopuitslag van 24-24.
Min spanne het die vermoë om vyf voorrymanne af te staan en dan hom nog in die skrums, losgemale, dryfspel en lynstane laat geld. Die Vrystaat het dit vermag met slim kontraktering deur Naka Drotské en sy bestuurspan.
Met Adriaan Strauss, Coenie Oosthuizen en Trevor Nyakane in die Springbok-groep asook Lourens Adriaanse en Rayno Barnes terug by die Poubloues moes Drotské-hulle raakvat om die leemte te vul.
Teen die vurige Leeus het die nuwe voorry, Caylib Oosthuizen, Hercu Liebenberg en John-Roy Jenkinson hul man gestaan.
Dit moet die Vrystaters ook selfvertroue gee vir hul kragmeting Saterdag om 18:00 op Nuweland teen die Streeptruie, want die Kapenaars lyk kwesbaar in die skrums
Die Vrystaat-voorry se taak is makliker gemaak deur die res van die agttal, wat onder leiding van hul nuwe kaptein, Boom Prinsloo, met mening ingeklim het het. Dit was veral Lood de Jager, Lappies Labuschagne en Philip van der Walt wat uitgestaan het.
Dit skaal is in die Vrystaters se guns geswaai deur hul ervare agterspelers. Sarel Pretorius het sy teenstanders laat raai en saam met Elgar Watts het hulle hul driekwarte glad weggestuur. In die middelveld is Robert Ebersohn en Johann Sadie ’n gedugte paar. Met hul slim spel het hulle kanse vir punte geskep.
Die Vrystaters en verdediging was teen die einde rotsvas en al hierdie faktore
het saamgewerk om die span ná die eerste ronde boaan die puntelys te plaas.

Punte: Toyota Vrystaat Cheetahs 30 (13). Drieë: Robert Ebersohn, Boom Prinsloo, Sarel Pretorius, Johann Sadie. Doel: Riaan Smit, Elgar Watts. Straf: Smit, Watts. Goue Leeus 29 (16). Drieë: Stokkies Hanekom, Willie Britz, Ruan Dreyer. Doel: Marnitz Boshoff. Straf: Boshoff (4).
Ander uitslae: Westelike Provinsie 24 Blou Bulle 24; Griekwas 32 Haaie 30.