Tydens die 2019- interprovinsiale hokkietoernooi, wat verlede week in Bloemfontein plaasgevind het, het albei die Vrystaat-man- en vrouespanne het hul stem deeglik dik gemaak.
Daar het vanjaar 34 spanne aan dié spogtoernooi deelgeneem, wat ook gebruik is as proewe vir die man- en vrouespanne wat aanstaande jaar aan die Olimpiese Spele in Tokio, Japan, sal deelneem.
Die mans wat in die B-afdeling deelgeneem het, het die toernooi onoorwonne afgesluit nadat hulle Saterdagaand as die kampioene aangewys is. Die dames moes op hul beurt met ‘n algeheel vierde plek tevrede wees nadat hulle die halfeindronde van die toernooi bereik het.
Die mans het hul toernooi op ‘n hoë noot begin toe hulle KwaZulu-Natal Binneland op dag een met 7-0 afgeransel het. In hul tweede wedstryd teen die KwaZulu-Natal Mynahs moes hulle egter die punte deel nadat hulle van 2-0 teruggeveg het om 2-2 gelykop te speel.
Tydens hul derde wedstryd het die span sommer baie beter begin saamspeel en die byvoeging van die Grey-kollege-matriekseun, Hann-Ru van Wyk, het ook aan die span baie meer byt gegee. Hulle het ‘n goeie 3-0 sege teen die Suid-Gauteng Nuggets verdien.
In die kwarteindronde moes hulle hard werk vir ‘n sege toe hulle die wedstryd teen Mpumalanga in ‘n uitskietstryd moes wen nadat die kragmeting met 1-1 gelykop geëindig het. In die uitskietstryd kon hulle daarin slaag om die span van die Laeveld met 3-1 te troef.
In die halfeindstryd het hulle egter ligte werk daarvan gemaak om die Nuggets 5-1 te klop voordat hulle Saterdag in die eindstryd die Suid-Afrikaanse Plattelandse Distrikte (SACD) met 2-1 verslaan het.
Tydens die toenooi het Vrystaat 20 doele aangeken waarvan die kaptein, Emile Cloete, Tiaan Welhagen en Winray Christoffels elkeen vier doele behaal het.
Die goeie toernooi vir die Vrystaat beteken dat hulle aanstaande jaar weer eens in die A-afdeling sal meeding.
Die dames het sommer op die eerste dag van hul toernooi in die A-afdeling vir ‘n reuse-opskudding gesorg toe hulle van 2-0 teruggeveg het om ‘n baie sterk Westelike Provinsie met 3-2 te klop. Dinsdag het Vrystaat geen probleme ondervind toe hulle KwaZulu-Natal Raiders (Kus) met 3-0 verslaan het nie. Die span het egter in die laaste groep wedstryde met 2-1 teen Noordwes vasgeval, hoewel hulle steeds bo aan die punteleer geëindig het.
In die kwarteindronde moes hulle weer terugveg om die Oostelike Provinsie met ‘n 4-2 sege die trekpas te gee en in die halfeindronde het Noordelikes, wat die toernooi gewen het, te veel skietgoed gehad en die tuisspan met 3-1 geklop. Tydens die derde- en vierdeplek- uitspeelwedstryde het hulle weer vasgeval met ‘n 3-2 nederlaag teen WP, wat die bronsmedalje gewen het.
Simoné Gouws het vir die Vrystaat-vroue vyf doele aangeteken, terwyl die voormalige Protea, Sulette Damons, vier doele bygedra het en Antonet Louw drie.
Hoewel die dames nie ‘n medalje kon wen nie, kan hulle trots wees op hul goeie toernooi.
Die mans se A-afdeling is deur WP gewen nadat hulle Suid-Gauteng met 3-1 in uitskietstryd in die eindstryd geklop het. In die vroue-eindstryd van die A-afdeling het Noordelikes ook die span van Suid-Gauteng met 2-0 in ‘n uitskietstryd geklop. – MORGAN PIEK