Gordyn sak dalk oor Moments

0
687
Die Moments-musiekextravaganza is ’n geleentheid op meeste Bloemfonteiners se sosiale kalender. Verskillende sangers, kore en dansers is by die produksie betrokke. Hier is die Bloemfontein Kinderkoor in aksie tydens Moments 2018-vertoning.

Bloemfontein gaan dalk een van sy gewildste musiek-extravaganzas verloor as Pacofs nie plaaslike vervaardigers tegemoet wil kom nie.

Die gewilde Moments-konsert, wat vanjaar vir die vierde keer in die Rosestad moet plaasvind, is ‘n geleentheid op die Bloemfonteinse vermaakkalender waarna meeste inwoners in die stad reikhalsend uitsien. Daar is gewilde kunstenaars, skole en dansers by so ‘n vertoning betrokke en is ‘n geleentheid wat sorg vir groot opwinding in die Sand du Plessis-teater.

Die vervaardiger van Moments, Willie Venter, is egter hoogs ongelukkig met Pacofs omdat laasgenoemde glo vanjaar die bedrag vir die huur van die teater vir Moments bykans verdubbel het. “Verlede jaar het dit ons sowat R65 000 vir drie vertonings gekos om die teater te gebruik. Vanjaar sal dit my om en by R53 000 kos vir een vertoning. Dit is belaglik,” het Venter gesê.

Moments, wat Venter se breinkind is, het in 2016 vir die eerste keer plaasgevind. Skoolkinders wat in hul onderskeie skoolkore sing het jaarliks uitgesien na die musiekvertoning, bloot om saam met helde in die musiekbedryf op te tree.

Willie Venter

Venter verduidelik dat hy definitief nie daardie soort geld kan of sal betaal vir drie dae nie. Volgens Venter het hy ook ander uitgawes wat gedek moet word. Dit sou uitwerk op byna R160 000 in totaal, en dit vir drie dae se vertonings. Sy keuse is om nou net een vertoning van dié wêreldklas-extravaganza aan te bied of om dit geheel en al te staak. Dit sou beteken dat die Moments-konsert, wat een van die gewildste vermaakgeleenthede aan Bloemfonteiners is, van die baan af is.

Nog ‘n bekende wat gereeld die Sand du Plessis-teater gebruik vir die produksies wat hy skryf en vervaardig, Xander Steyn, is ook ongelukkig oor die besluit wat Pacofs geneem het. “Dit is vir my hartseer dat die prysverhoging dit nou baie moeilik gaan maak vir plaaslike mense om die teater te gebruik. Die teater is tog deel van Bloemfontein en die Vrystaat en moet dan ook die plaaslike teaterkuns bevorder en meer toegangklik maak. Ek self kan nou nie eers meer my drie junior groepe laat optree in die Sand nie weens die verhoging.”

Xander Steyn

Meshack Xaba, waarnemende uitvoerende hoof van Pacofs, het in ‘n uiteensetting die huurkoste van die Sand du Plessis-teater vir die Moments-konsert aan Bloemfontein Courant verskaf.

Daarvolgens het Venter verlede jaar R64 350 betaal en is hy vir hierdie jaar R93 000 gekwoteer. Volgens Xaba verteenwoordig die bedrag ‘n 10 persent styging. Xaba het ook gesê dat teaterbeamptes ‘n vergadering met Venter gehad het en dat Venter ten volle bewus was van die verhoogde tarief.

Volgens Xaba se uiteensetting het Venter verlede jaar die derde vertoning gratis gekry asook 10 persent afslag op die totale bedrag. Vanjaar betaal Venter egter halfprys vir die derde vertoning en is geen afslag op die totale bedrag van toepassing nie. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za