Goeie vertonings by SA oopwater-swem

0
876
RUFUS BOTHA

Die twee langasemswemmers, Marné Frylinck en Chantel Smith, het die beste vertonings onder die Vrystaters by verlede week se Suid-Afrikaanse oopwater-swemkampioenskap wat by die Eikehofdam naby Grabouw in die Wes-Kaap beslis is, opgedis.

Dit gemeet aan die plekke wat hierdie kranige Vrystaters in hul afdelings behaal het en die honderde swemmers wat aan die kampioenskap deelgeneem het. Frylinck het die 5km vir meisies 14 tot 16 jaar aangedurf en ‘n puik vierdeplek in 1:07:31 losgeswem.

Charlise Oberholzer (KZN, 1:03:39) het dié afdeling maklik gewen, maar die tweede- een derdeplekswemmers, Caylan Bromley (WP, 1:06:08) en Savannah Barman (EGA, 1:06:09) kan vir seker ‘n groter aanslag van die Bloemfonteiner (Frylinck) in die toekoms verwag. In die vroue-afdeling (19 jaar plus, 5km) het Smith ook die vierdeplek ingeneem. Dié 21-jarige Vrystater het 1:16:41 aangeteken, maar harde werk lê voor indien sy die wenner, Shannon Austin (WP, 1:05:26), in die nabye toekoms wil skrikmaak.

Intussen het ‘n trotse president van Mangaung Aquatics, dr. Henk Boshoff, Courant ingelig dat die afrigter van die Kovsies-swemklub, Marco Markgraaff, aangestel is as Swem Suid-Afrika se nasionale junior afrigter. Markgraaff sal dié pos van 1 Maart tot 31 Desember 2016 vul.

Op ‘n vraag oor sy doelwitte vir die toekoms, het Markgraaff gesê, "Ek beplan vir seker ‘n klompie oefenkampe en talentidentifikasie is hoog op die agenda. My hoof- en langtermyndoelwit is om nou reeds moontlike medaljewenners vir die 2020- Olimpiese Spele in samewerking met die provinsies te identifiseer en dan in samewerking met hul afrigters die pad na 2020 aan te pak."

Markgraaff het in Desember diens gedoen as een van die afrigters van die nasionale span by die wêreld-kortbadkampioenskap in Katar.
Boshoff het ook die uitvoerende hoof van Swem Suid-Afrika, Shaun Adrianse, namens Mangaung Aquatics bedank vir die vertroue wat hulle in Markgraaff stel en bygevoeg dat hulle baie trots is op hom.