Goeie strategieë deurstaan toets van tyd

0
543
Foto: Finanztrends

‘n Goeie beleggingstrategie is goud werd, al lyk dit nie in die huidige beleggingsomgewing so nie.

Wanneer dit by beleggings kom, maak menslike natuur dat ons van die verlede vergeet en die swak opbrengste van die hede ons erger as ooit ontstel.

Die huidige swak marktoestande, wat nou al by die vier jaar heers, moet nie onderskat word nie. Pensioenarisse (en beleggers in die algemeen) in markverwante beleggings het nie inflasie uitpresteer nie, en het waarskynlik al van hul kapitaal gebruik as inkomste.
As mens teruggaan in die geskiedenis, is daar egter heelwat voorbeelde van uitermatige slegte marktoestande. Die mees onlangse een in ons geheue is die finansiële krisis van 2008/09.

In terugblik kan ons nou met sekerheid sê dat die beleggers wat drastiese, meer konserwatiewe aanpassings aan hul beleggingstrategie gemaak het tydens die finansiële krisis van 2008/09, vandag slegter daaraan toe is as die wat net by hulle strategie gehou het. Om dus onmiddellike stabiliteit na te jaag, het gelei tot langtermynverliese aan opbrengs.

Om dus nou dieselfde van strategieverandering te oorweeg, kan rampspoedig wees vir jou beleggingsportefeulje se langtermynwelstand. Jy gaan jouself moet weerhou van die versoeking om die veilige hawe van vasterentebeleggings te gaan opsoek. Indien jou finansiële beplanner ‘n goed gekwalifiseerde beleggingsadviseur is met die nodige ervaring, het jy geen rede om sy leiding in twyfel te trek nie.

Julle sal ‘n strategie uitgewerk hê wat uit verskillende komponente bestaan, onder meer taktiese bate-allokasie op ‘n gereelde basis. Bly by die strategie, jy sal jou geld maak met tyd. Hiermee probeer ek ook sê dat jy moet oppas vir die opportuniste wat jou tans sal probeer oortuig dat jy op die verkeerde pad is en dat hulle vir jou jou opbrengs sal kan omdraai. Gaan maar eerder terug na jou eie kundige en ervare finansiële beplanner vir sy opinie.

2019 se verwagtinge lyk nie te sleg nie, en miskien begin jou strategie jou vergoed. Goeie raad sou egter wees om minder gereeld na jou beleggingstate te kyk, vermy sensasionele nuus, neem besluite gebaseer op harde feite en wees geduldig.

horace@nassaux.com