‘Goeie reën, maar nog ‘n lang pad vorentoe’

0
487
Francois Wilken. FOTO: CONRAD BORNMAN / MEDIABOER

“Die goeie reënval wat die Vrystaat gekry het, is ‘n groot seën, maar die probleme is nog nie verby nie,” het Francois Wilken, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) na verlede week se milde reën aan Bloemfontein Courant gesê.

Volgens Wilken kan verlede week se reën dalk ‘n bietjie laat wees vir sommige boere. Boere kry die meeste van hul noodsaaklike water vir hul gewasse uit reën. Ná bykans ‘n week van swaar reënval in sekere gebiede in die Vrystaat, is daar hoop vir sommige boere. Wilken meen egter dat die droogte nie verby is nie, maar dat daar baie werk vir boere voorlê.

Laurens Schlebusch en Ivan Schlebusch

“Die reën help beslis die veld asook die groei van die veld wat nodig is om kos te maak vir die winter. Die gewasse wat geplant is, sal baie daarby baat vind, maar ons hoop dat laat planters dit sal maak.” Wilken het beklemtoon dat hoewel boere steeds onder finansiële druk is, bring die reën beslis hoop.

Laurens Schlebusch, ‘n boer wat suidwes van Bloemfontein met hoofsaaklik sonneblom en ‘n paar beeste boer, het tot dusver 130 mm reën vir die seisoen ontvang, maar hoop op steeds meer reën. Schlebusch het aan Bloemf ontein Courant gesê dat hulle vir Januarie 60 mm reën ontvang het en 70 mm in Februarie.

“Die reën het baie gehelp, maar ons het nie veel geplant nie. Tot dusver lyk dit baie goed en die sonneblom groei, maar ons benodig ‘n goeie 300 mm tot 400 mm reën vir ‘n goeie seisoen.”

Schlebusch, wat sedert 2009 boer op die familieplaas, sê dat dinge sedert 2014 al moeilik is as gevolg van die droogte wat boere ervaar het, maar as hulle ‘n paar warm dae met opvolgreën ervaar, kan dinge net beter vir boere uitwerk. – Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za