Die Departement Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) het hierdie week ‘n landboumarkvooruitsigte-werksessie op die Bloemfontein-kampus aangebied, met die tema: Eksotiese wildboerdery asook Ekonomiese en Markvooruitsigte vir graan- en veebedrywe.
Volgens prof Johan Willemse van die Departement Landbou-ekonomie, het boere vanjaar ‘n groot graanoes gehad, wat goeie nuus vir die verbruiker beteken. Nie net kyk ons na ‘n daling in die pryse van graanprodukte nie, ons kan ook vanjaar uitvoer.
Die werksessie het gefokus op die markvooruitsigte vir eksotiese wildboerdery, die plaaslike graanmark, insluitend mielies, oliesade en koring en ook vooruitsigte vir veebedrywe wat insluit bees-, skaap-, vark-, hoendervleis en melk.
Prof Willemse sê: “Die wildbedryf is nie ‘n gou-rykdomskema nie, maar ‘n langtermynbelegging. Daar is egter beslis geleenthede in Suid-Afrika vir boere wat met vee wil boer. Dr Johan Kriek, ‘n wildboer van Kimberley, het saam met prof Willemse die groep oor eksotiese wildboerdery toegespreek.
In die vleisbedryf lyk die prentjie egter nie so gunstig soos met die graanbedryf nie. As gevolg van die groot droogte voor die reëns het boere vee teruggehou om hul kuddes uit te brei en het die vleisprys vir die verbruiker gestyg.