Goeie nuus vir gesin na twee hartoorplantings

0
857
Die tweede dag na Melinda se hartoorplanting

Augustusmaand is orgaanskenkingsmaand. Melinda Steyn (23), wat B.Ed Grondslagfase studeer het aan die Universiteit van die Vrystaat en verlede jaar een van die Top 10 Miss Free State SA-deelnemers was, kyk terug op haar lewe en is dankbaar teenoor die mens wat vir haar ‘n hart kon gee.

Steyn het aan Bloemfontein Courant vertel dat sy altyd geweet haar pa, Tjaart Steyn, het ‘n hartoorplanting gekry, maar sy het nooit besef wat dit regtig behels nie, totdat sy 12 jaar oud was. Sy moes op daardie ouderdom baie van haar gunstelingdinge prysgee; dinge soos sport en skoolgaan. Terwyl sy in Mauritius vir ‘n danskompetisie was, het haar hart letterlik haar hele bolyf “vol geklop”.

Pa Tjaart, Melinda en haar ma, Christel Steyn

Volgens haar kon ‘n mens dit met die oog sien en dit was vir haar “baie cool”, sy het dit vir almal gewys. “My pa het toe gesê dat dit ook sy simptome was.”Ek is toe in Bloemfontein gediagnoseer met ‘n hartkwaal en het net 23% hartfunksie gehad.”

Melinda sê dit het haar eers getref toe sy vir haar ouers gesê het, “hoekom kry ek nie net ‘n hart nie”, en haar pa verduidelik het dat dit nie so maklik is nie en dat so ‘n operasie nie altyd suksesvol is nie.

“Ons het gegaan vir ‘n tweede opinie. Ek is opgeneem omdat ek vog op die longe en hartversaking gehad het,” sê sy. Sy is die volgende Januarie op ‘n waglys vir ‘n nuwe hart geplaas en was in daardie stadium so siek dat sy nie kon huis toe gaan nie. Sy onthou goed hoedat die suster ingestap het en gesê het hulle gaan Kaap toe vlieg en hoe haar dokter haar voetjies vasgehou het toe haar ma, Christel, gevra het, “Dokter, is daar ‘n hart?”

Melinda en haar pa na hul opvolgbesoeke hierdie jaar.

“Alles het so mooi vir ons uitgewerk. My pa en ek het jaarliks saam gegaan vir ons opvolgafsprake en nou, 10 jaar later, het hulle vir ons gesê ons mors ons tyd om te kom omdat dit so goed gaan met ons altwee,” glimlag sy.

Augustusmaand is orgaanskenkingsmaand en Melinda moedig mense aan om die orgaanskenkingswebtuiste te besoek.

Diegene wat wil, kan registreer as orgaanskenkers by www.odf.org.za. Die lewe van nog ‘n mens kan so verander.

SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za