Laasweek het ons gekyk na hoe die plaaslike aandelemark steeds voortsukkel, terwyl baie ander markte in die wêreld reeds begin kop optel het. Dit kom ook voor of ekonomiese syfers wêreldwyd meer positief begin draai het.
Die volgende vyf jaar se verwagtinge lyk vir seker beter as dit wat ons die laaste vyf jaar (spesifiek die laaste drie jaar) ervaar het. Behalwe vir die huidige swak beleggingsopbrengste, sit senuagtige beleggers egter met ‘n verdere tameletjie, naamlik: moet ek steeds in kontant belê en wag vir markte om op te tel, of is die tyd nou ryp vir ‘n markverwante belegging, voordat die opswaai plaasvind?
Dis ‘n moeilike een, aangesien ‘n mens net ‘n raaiskoot kan waag. Waarskynlik is nie een van die bogenoemde strategieë die oplossing vir beleggers wie se senuwees tans aan flarde is nie.
So hoekom oorweeg jy nie ‘n kombinasie van bogenoemde strategieë nie, naamlik om stelselmatig uit jou kontant- of konserwatiewe belegging in ‘n meer markverwante of aggressiewe beleggingsportefeulje in te faseer nie? Niemand weet wanneer die volgende “skok” finansiële markte gaan tref nie, of wanneer die volgende sarsie positiewe nuus die nodige katalisator gaan wees om markte die nodige momentum te gee om opwaarts te beur nie.
Deur dus jou kapitaal in ‘n markverwante beleggingsportefeulje in te faseer, kry jy die geleentheid om teen verskillende vlakke of pryse in te koop, wat beteken jy beskerm jouself teen onverwagte “skokke”, terwyl jy voordeel trek uit positiewe markbewegings. Sedert 2001 tot en met einde 2016, het ‘n kontantbelegging slegs aandele en effekte eenkeer uitpresteer; jy wil dus nie te lank in kontant vasgevang wees nie (al lyk kontant se opbrengste tans na jou enigste opsie).
Infasering werk uitstekend wanneer markte sywaarts beweeg (soos nou), of wanneer dit afwaarts beweeg, maar nie so goed wanneer markte opwaarts begin beweeg nie, aangesien jy dan voortdurend op hoër vlakke of duurder inkoop. Beplanning en dissipline is dus belangrik by ‘n infaseringstrategie. Gegewe die volatiliteit op die plaaslike mark en die vooruitsigte tans, is infasering dus nie ‘n slegte opsie nie. Stuur gerus vir my ‘n e-pos na horace@nassaux.com indien jy meer inligting oor infasering benodig. – Horace Terry
horace@nassaux.com
Date: