G’n lig aan einde van dié toneel

0
241
Die toneelstuk, In The Dark, is spesiaal vir en deur die derdejaarstudente aan die Universiteit van die Vrystaat se dramadepartement geskep.

In die toneelstuk In the Dark word die sewe hoofkarakters se senuwees behoorlik getoets.

‘n Paar studente raak verlore in grotte en dit lei tot konfrontasie asook emosionele en fisieke uitdagings. Elke karakter bekyk en hanteer die krisis verskillend, hulle sukkel om saam te werk en is meestal nie opgewasse vir die stryd nie.

Die karakters wat dink hulle is leiers, is nié. Dié wat dink hulle is sterk, is nié. En dié wat dink dis die einde. . . is rég.

Luidens ‘n verklaring van die Universiteit van die Vrystaat se drama-departement is In The Dark spesifiek geskep vir toneel-spelstudente in hul derde jaar.

“Daar is sewe studente in hierdie groep. Elkeen verdien ‘n sterk spelgeleentheid en daarom het ons besluit om ‘n toneelstuk te doen waarin die studente sélf hul karakters en storie skep. Hulle het spesifieke riglyne gehad waarvolgens hulle die karakters kon skep en toe moes elkeen hul karakter aan die res van die groep motiveer.

“Nadat die karakters, karakterkombinasies en moontlike storielyne gefinaliseer is, is die teks geskryf en verfyn tydens repetisies. Lui die verklaring.

Die drama is geskryf en geregisseer deur Chris Vorster. Stella Nortier en die Theatre Makers was die mede-regisseurs.

In The Dark, wat ‘n ouderdomsbeperking van 16+ vir taal het, word van 22 tot 24 Mei 2019, om 19:30 in die Scaena-teater op die UV-kampus opgevoer.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket teen R40 vir volwassenes, R30 vir studente en R25 vir skoliere, pensioentrekkers en groepbesprekings (10 of meer kaartjies). – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za