‘Glinster-Woensdag’ bring hoop tydens inperking

0
530
Sabrina Gregorini (11) van Bloemfontein

Die gedagte om tydens die inperking liefde, positiwiteit en hoop aan ander te bring, het gelei tot Sabrina Gregorini (11) ‘n Bloemfonteinse leerder van Eunice, se uitdaging aan inwoners van die Rosestad om op, wat sy noem “Glitter Wednesday”, ander te seën deur iets spesiaals vir hulle te doen.

Sabrina het in grendeltyd, terwyl sy eendag besig was met aktiwiteite vir die kinderkerk van haar gemeente waar hulle doughnuts gemaak het om ander mense te bemoedig, te seën, en te laat besef dat hulle nie alleen is nie, op die idee van Glinster-Woensdag gekom.

Sy het gesien hoeveel mense ‘n vriend, liefde en selfs net ‘n bietjie ondersteuning nodig het, en dit het haar laat voel dat sy graag iets wou doen om iemand anders se dag spesiaal te maak en hoop te gee om die res van hierdie moelike tyd tegemoet te gaan.

Sabrina het verduidelik dat enige iemand betrokke kan raak by haar Glinster-Woensdag. “Hoe dit werk, is elke Woensdag moet jy besluit wie jy graag op daardie dag wil seën met ‘n goeie gebaar. Dit hoef nie geld te kos nie, dit kan iets wees soos om vir jou boetie of susssie ‘n massering by die huis te gee, blikkieskos te versamel vir ‘n projek by ‘n kinderhuis, of net deur ‘n video-oproep aan ‘n vriend of kennis om te hoor hoe dit gaan en of hulle oukei is.”

Sy vertel verder dat daar al foto’s ingestroom het van mense wat wys wat hulle vir ander op Glinster-Woensdag gedoen het sedert sy daarmee begin het op 13 Mei. Sabrina het aan Bloemfontein Courant gesê dat die lekkerste is dat grootmense sowel as kinders deelneem aan hierdie projek.

“‘n Mamma van twee klein kinders wat hout langs die pad verkoop, het skoon trane in haar oë gehad toe sy ‘n pakkie met winterklere, boeke, potlode, speelgoed en ‘n gebakte brood ontvang het op Glinster-Woensdag.”

Sabrina se plan is om aan die einde van Augustus die mees oorspronklike idee te kies. “Wie weet, dalk ervaar daardie persoon ‘n Glinster-Woensdag-oomblik.”

Mense wat die uitdaging aanvaar om iemand se dag vol te maak met oomblikke van geluk, kan vir Sabrina foto’s daarvan stuur na: 084-227-4987.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za