Gewilde sprokie word verweef met ballet

0
2980
Dié groep akteurs speel die verskeie karakters in die komende verhoogproduksie, Beauty and the Beast.

November is sprokiesmaand in die Rosestad wanneer gewilde kinderopvoerings herleef. Elna van der Walt en haar balletskool bring die gewilde verhaal van Beauty and the Beast na die Stadskouburg.

“Die akteurs is almal mense van Bloemfontein wat daagliks hul plek volstaan in professionele beroepe,” verduidelik Van der Walt.

Hulle het tussendeur tyd opgeoffer om by die repitisies van Beauty and the Beast te wees. “Dit is almal mense met ‘n liefde vir die verhoog en toneelspeel.”

Van die karakters is Anke-Meyer, wat die rol van Belle vertolk. Sy is tans nog op skool aan die Hoërskool Sentraal. Frans-Johan Steynberg, ‘n graad 2-leerder aan Grey-kollege, vertolk die rol van Chip. Nic Beukes is Beast, Erola Pretpriu is Mrs Potts en Neels Vorster Candlestick, terwyl Nico de Villiers die rol van Clock speel.

Die regie word deur Elna van der Walt en Elrine Mitchell behartig terwyl die verhaal vir die verhoog deur Isabel Mostert geskryf is.

Die vertoning beloof om propvol opwinding te wees. Ballerinas van die Elna van der Walt Balletskool sal ook tussen die tonele deur optree. “Hulle is daar om die verhoog is te kleur met hul pragtige kostuums, musiek, beligting en vele ander verrassings,” sê Van der Walt.

Op Donderdag 1 November om 18:00 kan die finale kleedrepetisie teen R70 bygewoon word. Op Vrydag 2 November vind die eerste vertoning om 19:00 en Saterdag om 12:00 en 19:00 by die Stadskouburg plaas. Kaartjies is beskikbaar by elnaballet@mweb.co.za of deur 082-462-5507 te bel.

“Dit is ‘n verhoogproduksie vir die hele gesin. Oud en jonk sal weggevoer word deur die pragtige liefdesverhaal en beloof om jou op die punt van jou stoel te hou. Jy mag dit nie misloop nie,” sê Van der Walt. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za