Gewilde Cezanne steel steeds harte

0
634
Cezanne Yzelle FOTO: FLAMING FIRE PHOTOGRAPHY

Cezanne Yzelle is deesdae die elegante vrou met die sterk stem en dik bos lang bruin hare wat dames by vroue-geleenthede vermaak, in die Aasvoëlklub optree, of uit haar kassie klim en ‘n Aretha Franklin-huldeblyk doen.

Alhoewel sy in Witbank grootgeword en aan die Hoërskool Generaal Hertzog gematrikuleer het, het sy gou haar hart op die Rosestad verloor en so agt jaar gelede hierheen verhuis. Haar passie en groot liefde vir musiek het van ‘n baie jong ouderdom af ontwikkel. “Vandat ek kan onthou, was die verhoog vir my ‘n veilige ruimte, ‘n plek waar ek myself kan wees,” sê sy.

Sy vertel van haar laerskoolmusiekjuffrou, Antoinette Espag, wat vroeg al haar talent raakgesien het. “Sy het al haar tyd en energie aan my bestee.” Ná universiteit het sy professioneel begin optree en ook haar voelers begin uitsteek na ander geleenthede in die vermaaklikheidsbedryf, soos onder meer kinderteater.

Yzelle is ook vrou vir haar man, Callie, en ma vir haar twee kinders, Liam (3) en Avia (6 maande). Sy is ‘n sakevrou wat dit geniet om geleenthede vir haarself sowel as ander kunstenaars te skep. Sy besit CY Vocal Studio.

Wanneer sy haarself beskryf kom die woorde, sanger, musikant, dromer, grafiese kunstenaar en kreatiewe siel voor. “Bo alles is ek ‘n volgeling van Jesus Christus en my identiteit lê in Hom,” sê sy. Sondae is sy betrokke by die Baptistekerk in Langenhovenpark se musiekbediending en sy vertel sy is mal oor musiek wat mense raak en haar hart lê by lofprysing en aanbidding.”

Yzelle tree op 20 Oktober saam met twee talentvolle kitaarspelers, Petrus van Wyk en Wiehan Brits, in die Aasvoëklub op. Sy het ‘n paar toere saam ARCO na die Moederstad en ‘n opname saam met ‘n bekende Bloemfonteinse sanger gaan volg.

Sy het ook ingeskryf om deeltyds teologie te studeer. Stuur gerus ‘n e-pos na cezanneyzelle@gmail.com of besoek haar op Facebook en ander sosiale media. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za