Gewilde Bloemfonteinse klerewinkel loop onder rowers deur

0
1145

Niemand is beseer nie in ‘n gewapende rooftog vanoggend by ‘n bekende klerewinkel in Bloemfontein se middestad. Polisiewoordvoerder, Chaka Marope, sê vier onbekende mans het omstreeks 09:30 by Awerbuchs Bargain House se agterste deur toegang tot die winkel verkry. Die mans het hul voorgedoen as werknemers van ‘n afleweringsmaatskappy. Hulle het leë bokse in hul hande gehad. Marope sê die mans was geklee in blou oorpakke en het stofmaskers oor  hul monde en neuse gehad. Twee rowers het werknemers by betaalpunte met vuurwapens gedreig en geld uit kasregisters geëis. Hy sê die booswigte het met ‘n onbekende bedrag geld en met geldlaaie van twee kasregisters op die vlug geslaan.  Die polisie ondersoek ‘n klag van besigheidsroof. Marope vra enigiemand met inligting om die Parkweg-polisiekantoor te bel by 051-507-6000. – Christal-lize Muller