Owen Kock
Die probleme wat die Motheo-VOO-kollege in Bloemfontein ervaar het met die registrasie van studente, is toegeskryf aan ’n toeloop studente. Dit ten spyte daarvan dat van die kursusse reeds vol was. Dis volgens Anika Labuschagne van die kollege se bemarkingsafdeling. Sy het reageer op ’n uitlating van die Demokratriese Alliansie in die Vrystaat, dat daar chaos by Motheo heers. Die DA het Maandag ’n beroep op die minister van hoër onderwys en opleiding, dr. Blade Nzimande, gedoen om in te gryp en die situasie te beredder. Registrasie het verlede Dinsdag in alle erns begin, het Labuschagne aan Courant gesê, hoewel student reeds Maandag by die kollege aangedoen het. “Ons het teen die einde van November verlede jaar reeds met die registrasieproses begin, juis omdat ons aan die begin van vanjaar verwag het dat baie studente hul opwagting sou maak.
“Die sogenaamde chaos is veroorsaak deur ’n toeloop studente en soos sake staan is Motheo reeds oorvol. Die registrasieproses is juis aangepas om seker te maak almal word gehelp. Ons bly nou oop tot 18:00 om te studente te registreer en het al so laat as 20:30 oop gebly om studente te help,” het Labuschagne gesê. In ’n verklaring sê die DA dat die minister sekerlik nie hier ’n soortgelyke situasie as verlede jaar by die Universitiet van Johannesburg, toe die ma van ’n voornemende student dood getrap is tydens ’n stormloop, sou wou hê nie.
“Dit is die laaste wat ons in die Vrystaat wil sien. “Daarom is dit belangrik dat die department van hoër onderwys en opleiding en spesifiek Blade Nzimande so gou as moontlik ingryp om nog ’n voorval soos Johannesburg te voorkom,” het Armand Cloete, provinsie woordervoerder gesê. Die DA sê verder in hul verklaring dat, volgens die adminstrateur van die kollege, die registrasieproses bemoeilik is omdat die ondserwysdepartement blykbaar nog nie alle matriekuitslae vrygestel het nie. Hulle beweer ook die huidige proses by Motheo is gebrekkig aan inklusiwiteit en dit raak toegang tot hoër onderwys in die Vrystaat.
Labuschagne het op haar beurt gesê een van die groot redes hoekom dit nou beter gaan, is omdat voornemende studente besef dat van die kursusse waarvoor hulle aansoek gedoen het, reeds vol is. Dit help om die proses gladder te laat verloop.