Geweld op plase: Goeie verhoudinge die oplossing sê VS Landbou

0
779

Die vier plaasaanvalle en drie moorde wat die afgelope 9 dae in die Vrystaat aangemeld is, is ’n bron van ernstige kommer. “Ons wil egter gemeenskappe maan tot beredeneerde kalmte, en hulle die versekering gee dat die kwessie ons aandag geniet,” sê Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou se Wet en Orde komitee.

“Ons verwerp die voorvalle, sinnelose geweld en verlies aan lewens ten sterkste. Vrystaat Landbou sal altyd rebelleer teen ’n gebrek aan respek vir mense asook mense se lewens. Ons kan nie in ’n demokrasie aanvaar dat diegene wat in landelike gebiede woon maklike teikens vir misdadigers is nie, en sal voortgaan met pogings om veiligheid in landelike gebiede op te skerp en te verbeter,”
aldus Henk Vermeulen, hoofbestuurder van Vrystaat Landbou.

Goeie menseverhoudinge op verskeie vlakke speel ’n groot rol aangaande veiligheid in landelike gebiede en op plase. ’n Bewys hiervan is die suksesvolle aankeer van ses verdagtes na ’n voorval op ’n plaas Sondagoggend, 18 Januarie 2015. Die komitee wil die groep landbouers en die SAPS van die Bothaville distrik geluk wens en hartlik bedank vir hulle spoedige optrede na die voorval aangemeld is. Gert Malan en sy vrou, Lulu, is oorval na hulle van die kerk teruggekeer het.

Hulle is beroof, en die verdagtes het met Gert se bakkie op die vlug geslaan. Die plaaslike veiligheidsnetwerk en die Polisie is ontbied, en slegs ure na die voorval is die verdagtes in ’n mielieland gevind en in hegtenis geneem.

Volgens Esterhuyse is dié voorval ’n voorbeeld van hoe ’n veiligheidstruktuur in ’n gemeenskap en goeie samewerking met die Polisie suksesvol kan wees. “Ons moet egter nie net re-aktief wees nie. Ons moet pro-aktief optree.” Esterhuyse moedig landbouers aan om nie laks te wees as dit by hulle
eie veiligheid kom nie.

Her-evaluering
“Ek is trots op die reaksie van Bothaville se veiligheidstrukture die afgelope naweek, maar ons moet die ernstige vrae vra oor hoekom die situasie in die eerste plek voorgekom het,” sê Dan Kriek, president van Vrystaat Landbou. “Die organisasie wil fokus op die voorkoming van voorvalle, en nie reaksie nie.”

Kriek rig ’n versoek aan alle beheerkamers en boereverenigings om die veiligheidsplanne in plek te her-evalueer vir veral sagte teikens. “Evalueer hoe ouer mense en diegene wat alleen bly en nie noodwendig by ’n stelsel kan of wil inskakel nie, betrek kan word. Skakel met die familie of die persone self oor beskikbare tegnologie en die dienste beskikbaar. Die koste van lewensverlies kan
nie opgemeet word teen die relatiewe lae koste van tegnologie beskikbaar nie.”

Wat kan jy doen?
“My en jou veiligheid is eerstens ons eie verantwoordelikheid. Wees paraat, en tref die nodige
voorsorg vir jou veiligheid,” vra Esterhuyse.
Maniere om dit te doen sluit in:
– Laat jou plaas opstal omhein waar nodig;
– Pas toegangsbeheer toe deur op te let na verdagte voertuie, persone of omstandighede en deur
goeie verhoudinge met jou werkers te handhaaf en ingelig te wees oor wie by hulle kuier;
– Sluit aan by jou plaaslike veiligheidsnetwerk en hou die netwerk en die SAPS ingelig oor verdagte
persone, voertuie of omstandighede op die plaas;
– Handhaaf goeie verhoudinge met die plaaslike Polisiestasie;
– Woon veiligheidsvergaderings by;
– Sorg dat voorkomende patrollies sigbaar is en dat dit aan die reëls van die Polisie voldoen;
– Wees betrokke by die gemeenskap en jou bure en weet wat gebeur in die omgewing;
– Oorweeg alarmstelsels wat jou en ander in die omgewing kan waarsku as daar gevaar is;
– Gebruik tegnologie beskikbaar soos kamera stelsels of paniek knoppies wat aan beheerkamers
gekoppel is;
– Kontant moet sover moontlik nie in huise gehou word nie;
– Moet nie aan enige iemand wys dat vuurwapens en/of kontant in die huis gehou word nie.

Die komitee wil ook veiligheidskoördineerders aanmoedig om kommunikasiekanale met die Polisie oop te hou en verhoudinge op te bou. Verder word hulle versoek om met die Polisie op tonele saam te werk en nie tonele te vertrap en sodoende getuienis vernietig nie. Nog ’n versoek is dat lede van veiligheidsnetwerke wat na tonele ontbied word, die toneel nugter sal betree, prakties sal optree en
nie emosioneel raak nie.

“Om te kan boer is ’n reuse voorreg, maar daarmee kom ’n reuse verantwoordelikheid saam. Nie net om voedsel te voorsien en na jou werkers om te sien nie, maar ook om verantwoordelik op te tree wat veiligheid betref.” Esterhuyse sê gereelde vergaderings vind met die Polisie plaas om die situasie te bespreek, asook om op hoogte te kom van die nuutste metodes en modus operandi van
misdadigers. Hy het die SAPS bedank vir hulle diens aangaande die voorvalle.

Vir meer inligting, kontak:
Tommie Esterhuyse – 082 782 0668
Henk Vermeulen – 051 4444 609
Alani Janeke – 051 4444 609

Uitgereik deur VS Landbou