VIDEO: Gewapende rower skrik nie gholfspelers af nie

0
2393
Byron Wegger en Francois Faasen by die bof van die sewende putjie op die Bloemfontein-gholfklubbaan waar hulle beroof is. FOTO: MARICELLE BOTHA

Twee gholfspelers wat vroeg in Januarie deur ‘n gewapende man op die Bloemfontein-gholfklub se baan beroof is, het vandeesweek weer ‘n potjie golf op dieselfde baan gaan speel. Byron Wegger, ‘n professionele tennisafrigter, en Francois Faasen, ‘n sportwetenskaplike, is op 8 Januarie omstreeks 13:30 op die bof van die sewende putjie genader deur ‘n booswig wat geklee was in ‘n driekwart-denimbroek, ‘n dik, swart baadjie en ‘n rooi pet.
Wegger vertel die man het by hom kom staan, sy hemp opgelig en vermoedelik ‘n 9mm aan hom gewys. Faasen, wat reggestaan het om af te slaan, het nie besef wat gebeur nie.
Die man het op Afrikaans geld geëis, maar nie Wegger se beursie nie. Wegger het besef hy is ernstig. Toe hy sy gholfsak oopmaak, het die rower gedink hy gryp na sy selfoon. “Toe skree hy op my en wys weer sy vuurwapen.” Wegger het hom gerus gestel dat hy net geld in sy beursie, wat in die sak is, wou uithaal. Intussen het Faasen besef wat aangaan. Die rower het hulle weer met die vuurwapen gedreig, hoewel hy dit nooit op hulle gerig het nie.

Die sewende putjie van Bloemfontein-gholfbaan.
Die sewende putjie van Bloemfontein-gholfbaan.

Faasen sê hy was aanvanklik onder die indruk dat die man ‘n joggie is wat gholfballe verkoop en dalk een van sy balle soek wat Wegger per ongeluk opgetel het. Wegger het R400 uit sy beursie gehaal en aan die booswig gegee. “Jitte, hy het alles gesoek, tot die sente. Dit was soos ‘n ou wat regtig desperaat vir geld is.” Faasen kan nie onthou hoeveel hy aan die rower gegee het nie; dit was meer as R100. Hy onthou wel hoe groot hy geskrik het. “Ek het gevoel hoe my hart klop.”
Die rower het Wegger se selfoon geëis, maar nadat hy hom oortuig het dat dit nie die moeite werd is nie en al sy persoonlike inligting daarop geberg is, het hy die foon aan Wegger teruggegee. “Toe het ons hand geskud. Dít was vreemd.”
Faasen vertel die man het hulle drie keer om verskoning gevra. Hy het herhaaldelik gesê hy soek nie moeilikheid nie en het rustig omgedraai en weggestap na waar twee van sy makkers onder ‘n boom gewag het.

Byron Wegger en Francois Faasen gesels oor die voorval.
Byron Wegger en Francois Faasen gesels oor die voorval.

Wegger onthou sy vriend was só senuweeagtig dat hy sommer daar en dan afgeslaan het. In die proses het Faasen benoud aan Wegger gevra of hulle moet ophou en wegstap. Op pad terug na die klubhuis het hulle twee ander spelers, ‘n man en ‘n vrou, gewaarsku. Wegger sê hulle het dit subtiel probeer doen om nie die groepie booswigte, wat nog onder die boom gestaan het, af te skrik nie. Die klubhuis is gebel en die polisie is ontbied.
Faasen sê lede van die Parkweg-polisiekantoor het vinnig gereageer en die gholfbaan gefynkam, sonder enige sukses. Die booswigte het weggekom. Die twee slagoffers is vol lof vir die Bloemfontein-gholfklub se bestuur. Dié klub beskou die voorval as ernstig en het kort ná die voorval aan Bloemfontein Courant bevestig veiligheidswagte gaan aangestel word om die baan te patrolleer. Daar is nie ‘n veiligheidsheining om die baan nie.
Wegger en Faasen het Maandag weer op dié baan gespeel. Albei is dit eens dat dit ietwat van ‘n traumatiese ervaring was. Daarom het hulle ander se raad gevolg om gou weer daar te speel. Hulle is baie lief vir gholf en ” ‘n mens kan nie in ‘n kartondoos leef nie. Jy kan nie wegkruip vir sulke goed in die land nie,” sê Wegger. Hoewel hulle ‘n klag van diefstal kon indien, het hulle besluit om nie ‘n saak by die polisie aanhangig te maak nie. – Christal-lize Muller 
christal-lize@centralmediagroup.co.za