Servaas de Kock
Almal van ons het al e-pos ontvang waar jy ’n groot hoeveelheid geld gewen het en net op ’n skakel moet kliek om dit op te eis. Dit klink baie onskuldig, maar wat is regtig die gevaar van sulke e-posse? Met vandag se gevorderde tegnologie het baie kuberkrakers net die kliek van ’n skakel nodig om toegang tot jou rekenaar te verkry. Wanneer jy op hierdie e-posse reageer of kliek, kan daar sogenaamde loerprogramme op jou rekenaar geïnstalleer word waarvan jy nie eens sal weet nie. Deur hierdie klein programmetjie wat geïnstalleer word, kan die kuberkrakers presies sien wat jy doen en sodoende persoonlike inligting bekom.
In baie gevalle het besighede die regte anti-virussagteware wat hierdie tipe e-posse blok, maar daar is nog gevalle waar dit deurglip. Die beste raad wat ek vir sulke e-posse het, is om dit totaal en al te ignoreer en uit te vee. Reageer net op e-posse of senders daarvan wat jy herken. Nog ’n belangrike wenk is om nie net op enige skakel in ‘n e-pos te kliek nie. Indien jy die e-pos vertrou kan jy kliek, maar indien jy nie gemaklik is met die e-pos nie, vermy dit eerder.
Die maklikste manier om te sien of ’n e-pos geldig is al dan nie, is om na die adres te kyk van die e-pos. Indien jy ‘n e-pos van ABC Bank ontvang, sal die adres iets lyk soos: voorbeeld@abcbank.co.za ABC Bank moet na die @-teken verskyn. Indien ABC Bank voor die @-teken verskyn met ‘n snaakse naam na die @-teken, soos abcbank@xpresnet.co.za, moet ’n mens onmiddellik agterdogtig raak.
* De Kock is die algemene bestuurder van Digital Platforms,webtuiste en ontwikkelingspesialiste.