Die Vrystaatse atletiekproewe vir atlete met fisiese gestremdhede, wat in die Vrystaat-stadion in Bloemfontein plaagevind het, het groot opwinding opgelewer.
Veral die mans, wat gedeeltelik siggestremd (T-13 klassifikasie wat sonder gidse hardloop) is, het in die naellope met haastige tye losgetrek.
Jacques du Bruyn (Martie du Plessis) het in die 100m- naelloop in genoemde klassifikasie in ’n blitsige 10.7 sekondes gewen. Hy het die Kovsie, Geremiah Mofokeng, wat self ’n haastige 10.9 afgeblits het, in die tweede plek ingenael. Joseph Modise (Bartimea) was derde in 11.6 sekondes.
Al drie dié blitse het die vereiste tyd van 13.9 vir deelname aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe, wat van 21 tot 28 Maart in Pretoria beslis word, maklik oortref.
In die 200m was dit ’n herhaling van dieselfde manne wat die eerste drie plekke gevul het – Du Bruyn weer bobaas, dié keer in 22.2 met Mofokeng tweede in 23.1 sekondes en Modise derde in 25.6. Die drietal het weer die vereiste (27.7) vir deelname in Pretoria na kinderspeletjies laat lyk. ’n Blink toekoms wink vir dié 15-jarige skolier van die Hoërskool Fichardtpark, Juanelie Meijer, en dit sluit waarskynlik deelname aan die Paralimpiese-spele in. Meijer het oudergewoonte uitgeblink in die naellope (T-38 klassifikasie), maar dit was in die verspring (F-38 klassifikasie) waar sy atletiekkenners se wenkbroue laat lig het.
Sy het ’n afstand van 3.51m aangeteken en as dit met die Afrika-rekord vir senior vroue vergelyk word, is dit duidelik dat dié rekord, wat agter die naam van Sonia Mansoor (Tunisië) op 4.12m pryk, in die toekoms agter die naam van Meijer geskryf kan word.
Meijer het die 100m in ’n blitstyd van 15.2 afgelê om die kwalifiserende vereiste (21.5) vir die nasionale kampioenskappe baie maklik behaal. In die 200 m het sy die naelloop in 31.8 afgelê en nóg makliker vir die Pretoria-byeenkoms gekwalifiseer. Die vereiste is 44.5.
Thabang Rasiile (Bartimea) het ook met sy blitstyd in die 100m vir onder 20-mans in die T-13 klassifikasie beïndruk. Hy het 12.7 sekondes genael en in vergelyking met die vereiste vir deelname aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe, was hy uitmuntend.