Gestremde durf Kilimandjaro aan

0
1344

Christopher Motabogi

’n Gestremde man van Bloemfontein wat in 2002 ná ’n motorongeluk sy voet verloor het, sal op 18 Julie, die verjaardag van oudpresident Nelson Mandela, een van die wêreld se hoogste bergpieke, Kilimandjaro, aandurf. Die provinsiale direkteur van die Vereniging vir Persone met Gestremdhede (VPG), Hendrien de Klerk, meen dat dié gestremde man, Godfrey Lobengu (29), se deelname weer eens bewys dat “gestremdheid nie ’n siekte is nie en dat gestremdes meestal net ’n ander manier moet vind om dieselfde te doen as ons wat nie gestremd is nie”.

Lobengu is in 2002 deur ’n dronkbestuurder raakgery waarna hy sy linkerbeen bokant die knie verloor het. Hy kon gevolglik nie sy skoolloopbaan voltooi nie. “Met die ondersteuning van VPG se borg, ZPC maatskappy, gaan ons Lobengu help met hierdie projek. Ons wil hom ook daarna help om sy skoolloopbaan te voltooi,” sê Gerhard Greyling wat Lobengu met sy voorbereiding vir die Kilimandjaro-projek bystaan. Hoewel die koste vir Godfrey en sy span se Kilimandjaro-bergklimprojek reeds gedek is, sê Greyling dat groot werk nou voorlê om Lobengu in staat te stel om sukses in dié projek te behaal.

“Ons is in die proses om vir Godfrey ’n nuwe prostese te kry wat hy kan gebruik vir die klim en hopelik ook vir die res van sy lewe. Daar is fisioterapeute wat met hom werk en ons gaan hom by ’n gimnasium kry as deel van sy voorbereiding,” vertel Greyling.
Intussen is ’n SMS-lyn begin om Lobengu se Kilimandjaro-projek te ondersteun. Die geld sal ook help om in die Vereniging vir Persone met Gestremdhede se daaglikse uitgawes te voorsien. Die vereniging meen egter dat die publiek se donasies nie noodwendig geld hoef te wees nie, maar enigiets wat grestremdes se lewe makliker kan maak. Lesers word aangemoedig om die woord “Kili” na “36619” teen ’n koste van R5 te SMS.

Die Nelson Mandela-stigting is onder dié wat boodskappe van ondersteuning aan Lobengu en sy span sal stuur. Niemand weet spesifiek wat die boodskappe behels nie, maar dit sal op verskillende fases van die Kilimandjaro-bergklim gelees word om sodoende bewustheid van gestremdheid en wat daarmee saamgaan te bevorder en hoop onder dié gemeenskap te kweek.

christopher@cenralmediagroup.co.za