Gestremde atlete na wêreldbyeenkoms

0
998

RUFUS BOTHA

Vier atlete van die Rosestad het reeds hulle intrek in Doha (Katar) geneem om van 22 tot 31 Oktober hulle staal te toon teen die wêreld se beste atlete by die wêreldkampioenskap vir atlete met fisiese gestremdhede.
Meer as 1300 atlete van meer as 100 lande sal by dié kampioenskap in aksie wees. 

Louzanne Coetzee is die enigste Bloemfonteiner met ‘n siggestremdheid (T-11-kategorie – volkome blind) onder die Bloemfonteiners wat in Doha aantree. Die ander twee, Juanelie Meijer en Teboho Mokgalagadi is albei serebraal gestremde atlete.

Die 21-jarige Coetzee en haar gids, Rouxné Jacobs is vanjaar ingesluit in die Suid-Afrikaanse span vir twee nommers, die 800 m en 1500 m. 

Hulle het in 2013 in Lyon (Frankryk) by die einste kampioenskap slegs aan die 800 m deelgeneem. Coetzee wat beter vertoon oor langer afstande het aan Courant gesê: “Dit gaan lekker wees om aan ‘n nommer (1500 m) deel te neem waar ek nie net op vaart hoef staat te maak nie. Die 800 m is vir my baie vinnig en my sterkpunt is my uithouvermoë”. 

Sy het onlangs in ‘n 10 km-padwedloop gewys dat haar uithouvermoë op die hoogste peil van haar loopbaan is toe sy haar beste tyd van haar loopbaan met meer as ‘n minuut verbeter het en 46:07 aangeteken het.

Coetzee is vanjaar by die Suid-Afrikaanse kampioenskap in die 1500 m gediskwalifiseer, maar vergelyk jy haar wentyd (5:33,12) by verlede jaar se nasionale kampioenskap, sou dié tyd haar vanjaar sedse geplaas het op die wêreldranglys van beste vertonings (2015). In die 800 m is sy negende op die wêreldranglys. 

Meijer, die Vrystaat se sportster van die jaar vir atlete met fisiese gestremdhede, is ook slaggereed om haar beste te lewer in Doha. Sy sal in die verspring (T-38) in aksie wees en het vroeër vanjaar haar persoonlike beste (4,23) aangeteken. Dit maak van haar vanjaar se agtste beste in die wêreld in haar kategorie. 

Mokgalagadi, een van die beste Paralimpiese atlete wat die land nog opgelewer het, sal in die 100 m en 200 m (T-35) koppe stamp. 

Dié voormalige Paralimpiese kampioen (2004, 100m en 200 m) en rekordhouer is weliswaar nie meer só op sy stukke as in 2004 nie, maar hy beklee steeds die sesde plek op die wêreldranglys (2015) in die 200 m (29,74). Die voorste atleet in die wêreld, Artem Kalashian (Rusland) beskik oor ‘n blitsige tyd van 25,62 in 2015. 

Mokgalagadi is negende op die genoemde ranglys in die 100 m.