Geskorste polisiebeamptes kos staat R8 milj.

0
465

Johannesburg – Sowat 10 000 polisiebeamptes was teen einde Februarie met volle betaling geskors en het die staat sedert April verlede jaar R8,49 miljoen gekos, berig The Star.

Dít is ten spyte van ‘n instruksie wat Nathi Mthethwa, minister van polisie, in 2011 aan polisiebestuur gegee het om met dringende voorstelle vorendag te kom om die probleem die hoof te bied.

In daardie stadium was 105 polisiebeamptes met volle betaling geskors in die 2009/2010-boekjaar, hangende verskeie ondersoeke teen hulle. Dit het die staat daardie jaar R2,45 miljoen gekos.

Mthethwa het Woensdag in ‘n geskrewe parlementêre vraag van die DA gesê 9 835 polisiebeamptes is met volle betaling geskors en 4 567 sonder betaling.

Zweli Mnisi, Mthethwa se woordvoerder, het gesê die bestuur het ‘n hersiening gedoen en "verskeie skuiwergate" geïdentifiseer.

Dit is in samewerking met polisievakbonde gedoen om te verseker hul lede se regte word nie geskend nie.

"Ons het nou tugregulasies in plek waarop ons by die bedingingsraad ooreengekom het; byvoorbeeld, ‘n ooreenkoms dat sake binne 90 dae opgelos moet wees."