Geskenkte bloed veiliger as ooit

0
Geskenkte bloed veiliger as ooit

SANDRA MULDER

Bloed is lewe. Elke druppel tel. Skenk bloed … dit is gratis in jou liggaam. Red ’n lewe. Dit is die motiveringswoorde wat gebruik word om meer bloedskenkers te werf. Verlede week is weer van dié motiveringswoorde gespreek, maar hierdie keer deur mense wat getuienis gelewer het van die reddingswerk wat bloed in hul eie lewens verrig het. Die SA Nasionale Bloeddiens, wat 800 000 bloedeenhede per jaar benodig en 3 000 skenkings per dag moet ontvang, het verlede week ’n spoggerige mediageleentheid by CocoC by die Loch Logan Waterfront-inkopiesentrum in Bloemfontein aangebied.

Carine Buitendach vertel met oorgawe hoe bloedskenkings gehelp het dat familielede nog ’n laaste jaar saam hul geliefde pa, Schalk van der Merwe van Petrusburg, kon gehad het. Hy was met kanker gediagnoseer en is in Oktober vanjaar oorlede. Sy het haar storie vertel van die lewegewende bloed wat haar pa ontvang het nadat hy verlede jaar met prostaatkanker gediagnoseer was en chemoterapie moes ondergaan het. Tydens die chemoterapie, het hy bloedarmoede ontwikkel en baie moeg geword. Gereelde bloedskenkings het gehelp dat hy baie beter voel en energieker is.

"Dit het ’n jaar by my pa se lewe gevoeg en ons almal kon nog vir ’n laaste keer saam hom wees, terwyl hy selfs gedeeltelik nog kon voortgaan met sy boerdery by Steunmekaar-gebied naby Petrusburg," sê Buitendach.  "My pa het baie vir my gesê as ons so op die plaas is, dat water lewe is. Maar in sy laaste jaar, was bloed sy lewe," sê Carine.  Mahlonola Sefojane van Qwaqwa het ook by die mediageleentheid ’n beurt gekry om sy storie as hemofilie-lyer te vertel. "Elke druppel bloed het aan my ’n verskil gemaak. Al die dank aan God dat ons steeds hier is en dat die bloeddiens daar is om mense soos ek te kon help," sê Sefojane.

Stephanie Fourie, bestuurder van die skenkerdiens in die Vrystaat en Noord-Kaap, sê daar was sedert Oktober 2005 ’n groot verbetering met bloedveiligheid met die implementering van die ID-NAT-toetsingstelsel waarin onder meer seroloogtoetsing vir anti-MIV, anti-HCV en HBsAg gedoen word. Die nasionale bloeddiens het van Oktober 2005 tot in September 2010 sowat 3,8 miljoen bloedskenkings getoets. In die tydperk het die toetsingstelsel 164 MIV RNA positiewe en anti-MIV negative bloedskenkings opgespoor.

Fourie het aangedui met die vorige toetsstrategie van anti-MIV en MIV p24Ag-toetsing, die bloeddiens 96 bloedskenkings wat MIV-positief is, nie sou kon opgespoor het nie. Die meerderheid van die eenhede (rooiselle en plaatjies) kon aan pasiënte oorgedra gewees en MIV-infeksie veroorsaak het. Daar is geen voorval van MIV-oordrag met bloedoortapping sedert Oktober 2005 aangemeld nie.

No posts to display