Gesinsdag in Heidedal gevier

0
669

Maricelle Botha & Sabrina Dean

Waar eens ’n vuil wit muur langs Foodzone in Heidedal was, pronk daar nou ’n kleurryke tafereel wat die kosbaarheid van gesinne vier. In die lig van Internasionale Gesinsdag het Families Suid-Afrika (Famsa) se Bloemfontein-tak verlede Woensdag leerders gekry om reusagtige uitbeeldings van wat hulle dink ’n gelukkige gesin is, te maak. Volgens Elaine Thompsen, skakelbeampte van Famsa, is die doel van die muur om kinders sowel as die gemeenskap te herinner aan hoe belangrik die gesin in die samelewing is. “Baie van die kinders in hierdie gemeenskap kom uit gebroke huise en ouers besef nie altyd hoe belangrik dit vir kinders is nie.”

Leerders van die skole Olympia, Heide, Kgato, Heatherdale en Joe Soloman het saam met kunsstudente van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie hul kreatiwiteit ten volle uitgeleef. Vir Jayden van Wyk (10) van Heide Primêre Skool is ‘Familiedag’ elke dag. “Jy het nodig om pret saam met jou familie te hê, selfs by die skool. Jou vriende by die skool is mos ook jou familie,” meen hy. Savannah Liberty (13) van Joe Solomon Primêre Skool vertel dat sy aan die muurverfprojek deelgeneem het omdat sy voel dit is belangrik om ook vir jou familie te wys hoe lief jy hulle het en om vir die mense wat verbyloop te wys hoeveel pret hulle het. “Dit is hoekom ons as kinders vandag saam hier bymekaar gekom het.”

Mphikilela Maphisa (14) ook van Joe Solomon, sê dat hy sy familie baie liefhet en veral die gunsies wat hulle vir hom doen en die stories wat hulle hom vertel, waardeer. “Ek weet as ek steel, sal ek beslis uit die huis gejaag word,” vertel hy op ’n ernstiger noot.
Famsa bied ’n verskeidenheid ondersteuningsterapie waaronder gesinsterapie, huweliksberading, ouerleiding, terapie vir families wat sukkel met gesinsgeweld, trauma, ensovoorts, aan gesinne en bedien die wyer Mangaung-area.
Vir meer inligting oor Famsa kontak die Bloemfontein-kantoor by 051-525-2395

maricelle@centralmediagroup.co.za
sabrina@centralmediagroup.co.za