Gesin verloor alles in ‘onverklaarbare’ brand

0
Gesin verloor alles in ‘onverklaarbare’ brand
Die De Vash-gesin, wat gister al hul besittings in 'n onverklaarbare brand verloor het, met ANC Wyksraadslid, Logan Kruger.

‘n Gesin van Heidedal het gister al hul besittings verloor in ‘n onverklaarbare brand wat volgens die eienaar van die huis, Patricia (Patty) de Vash, “net nie sin maak nie”.

Bloemfontein Courant het die huis in Pietersensingel, Opkoms besoek en op ‘n hartverskeurende toneel afgekom. Die mure was swart van al die rook en die besittings wat in die brand verwoes is, het op ‘n hoop aan die kant van die huis gelê.

Die venster wat hulle moes breek om toegang tot die huis te verkry.

De Vash het met trane in haar oë aan Courant vertel dat sy nie tuis was toe die brand uitgebreek het nie. Haar buurvrou, Gillian Hurford, en dié se gesin het agtergekom dat die De Vash-gesin se huis brand. Hulle moes die venster van die vertrek waarin die brand begin het, breek om toegang tot die huis te verkry. Hulle kon toe ‘n tuinslang gebruik om die brand te blus.

 

“Die kinders moes my by ‘n vriend se huis kom haal waar gekuier het. Toe ek by my plek aankom, kon ek my oë nie glo nie. Die huis was uitgebrand, en daar was niks wat ek daaraan kon doen nie,” sê sy.

 

“Ons beddens, insluitend die beddegoed en komberse, het gebrand. Die kinders kon nie eers vandag skool toe gaan nie, want hulle het al hul klere in die brand verloor. Hulle is getraumatiseer,” voeg sy by.

Volgens ‘n ander buurvrou is De Vash ‘n pleegma, en die kinders wat deur die staat in haar sorg geplaas is, het dringend hulp nodig. Sy het aan Bloemfontein Courant vertel dat dit wat aan hul lywe is, is al wat die kinders oor het.

“Die kinders het hul klere verloor want dit was in die kamer wat aan die brand geraak het. Hulle het buite gespeel toe dit gebeur het en nou het hulle nie eens ‘n bed om op te slaap nie,” sê sy.

De Vash meen iets vreemds moes gebeur het toe sy die huis verlaat het, aangesien daar niemand binne was toe die brand ontstaan het nie. Sy sê dat hulle niks kon vind wat die brand kon veroorsaak het nie.

“Daar was geen vuurhoutjies nie en geen kerse wat omgeval het nie. Daar was nie eers ‘n geskeurde elektriese kabel nie. Ek kan dit nie eers verduidelik nie. Dit is asof die brand uit die niet begin het.”

Lede van die gemeenskap wat die De Vash-gesin wil help om hul huis te herstel, kan haar seun by 060 604 0116 of Hurford by 083 578 7078 kontak. Skenkings van klere, beddegoed of kos word ook verwelkom.

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za

No posts to display