Gerda von Solms word Vrydag in Bloemfontein ter ruste gelê

0
1265

LANI FOUCHÉ, OWEN KOCK

Wyle Gerda von Solms, die uitvoerende hoofamptenaar van die Vrystaatse Rugbyunie, word eerskomende Vrydag in Bloemfontein ter ruste gelê.

Sy het Vrydagaand in die hosptiaal gesterf nadat sy Donderdag daar opgeneem is.

Harold Verster, besturende direkteur van die Cheetahs-maatskappy, het gesê die begrafnisdiens sal Vrydagoggend 11uur by die Vrystaat-stadion plaasvind, en sal oop wees vir die publiek.

Intussen is daar Maandag bevestig dat ‘n nadoodse ondersoek gedoen sal word om vas te stel wat Von Solms se dood veroorsaak het, volgens woordvoerder van die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein, Esmarie Cronjé.

Daar is aanvanklik verkeerdelik berig dat Von Solms Vrydagaand weens komplikasies na afloop van ‘n mantelvliesbreuk-operasie gesterf het.

Cronje sê Von Solms het nooit vir ‘n operasie gegaan nie, maar wel verskeie diagnostiese prosedures. 

Sy is verlede Donderdag opgeneem weens bloedarmoede, waarna verskeie toetse, ‘n kolonoskopie en gastroskopie op haar uitgevoer is.  Sy het ook ‘n bloedoortapping gekry.

"Maar sy het Vrydagaand net inmekaargesak en nooit weer wakker geword nie," het Cronjé gesê.

Von Solms is in 2003 van hoofbestuurder van die Vrystaat Rugbyunie tot uitvoerende hoof bevorder.

Dit het haar die eerste en enigste vrou in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse rugby gemaak wat dié bestuursposte beklee het.