Gerald op pad na die Jozi Stars

0
288
Gerald Coetzee in aksie as skoolseun vir St Andrew's tydens die 2018- Nasionale Skole T20-toernooi by die Universiteit van Pretoria. FOTO: MORGAN PIEK

Die tiener-snelbouler van die VKB Knights, Gerald Coetzee, sal van aanstaande maand af in die Mzansi Superliga speel.

Dié speler, wat verlede jaar nog maar op St Andrew’s in matriek was, sal in die T20-toernooi vir die kampioene, die Jozi Stars, speel.

Coetzee, wat aan die begin van Oktober 19 jaar oud geword het, het vandeesweek in slegs sy vierde eersterangse wedstryd van sy loopbaan gespeel.

Voor die kragmeting teen die Titans op die Mangaung Oval in Bloemfontein was die jong blits een van die voorste paaltjienemers in die plaaslike vierdag-kompetisie. Hy het egter aan die einde van verlede seisoen T20-krieket vir die Knights gespeel.

Coetzee word die derde speler van die Knights wat die Stars in die MSL T20-toernooi sal verteenwoording.

Verlede seisoen het die voormalige Proteas-snelbouler, Duanne Olivier, vir die Stars gespeel en ook die meeste paaltjies in die reeks platgetrek. Hoewel Olivier weens ‘n Kolpak-kontrak in Engeland speel, verteenwoordig hy nie meer die nasionale span nie. Hy sal egter vanjaar weer vir die Stars speel.

Die ander speler is die Knights se kaptein, Pite van Biljon, wat verlede jaar een van die ster-kowlers in die reeks was. Van Biljon speel egter vanjaar vir die span van Pretoria, die Tshwane Spartans.

Die huidige Proteas-aanvangbouler, Kagiso Rabada, speel ook vir die Stars, en Coetzee het aan Bloemfontein Courant gesê dat hy daarna uitsien om saam met van die beste snelboulers in die wêreld te speel.

“Ek is baie opgewonde en kan nie wag om op die Wanderers te speel nie. Veral met Kagiso Rabada en Duanne Olivier, wat albei baie goeie boulers is. Ek is ook baie opgewonde om vir Jozi Stars te speel.”

Coetzee het bygevoeg dat hy in dié stadium soveel moontlik by Van Biljon probeer leer.

“Ek vra gereeld vir Pite vir wenke hier en daar oor die span en dinge in Johannesburg. Hy sê die span het ‘n baie goeie stuktuur, so ek kan nie wag nie.”

Bloemfontein Courant kan bevestig dat die Paarl Rocks ook in Coetzee belang gestel het, maar weens ‘n misverstand het die Rocks die kans om goeie talent te bekom, misgeloop. Volgens die span in die Kaap het Coetzee met ‘n besering gesukkel, wat egter nie waar was nie.

Volgens die Proteas-legende, Allan Donald, wat die afgelope maand met Coetzee by die Knights gewerk het, sal die jong speler binne die vogende twee jaar vir die Proteas op internasionale vlak speel.

Die Jozi Stars sal op 8 November by die Wanderers in die opensingswedstryd van die MSL T20 teen die Cape Town Blitz te staan kom. – MORGAN PIEK