Geniet ‘n klassieke Kersfees by die Odeion

0
384

Die Odeion Skool vir Musiek gaan hierdie jaar nie net die gemeenskap trakteer op ‘n klassieke Kerskonsert nie, maar terselfdertyd aandag gee aan die opvoedkundige sy wanneer hierdie konsert aangebied word in die Odeion op Sondag 1 Desember 2019 om 16:00.

Die inisiatief vir die konsert is om aan sangstudente, wat die koor van die oratorium vorm, ‘n geleentheid te gee om ondervinding op te doen en studente wat strykinstrumente bespeel, deel te laat wees van die orkes. Hierdie studente sal die verhoog deel met professionele sangers en instrumentaliste en gaan dus eerstehandse ondervinding van hul professie opdoen.

Die konsert, wat in samewerking met die Vrystaatse Simfonie-orkes aangebied word, gaan verskeie soliste en hoofsaaklik strykorkesitems insluit terwyl die Odeion-strykkwartet die strykafdeling sal lei.

Die middelpunt word gevorm deur die Oratorio de Noël Op. 12 (Kersoratorio) van Camille Saint-Saëns, gekomponeer vir vyf sangsoliste, gemengde koor, strykinstrumente, orrel en harp en is vir die eerste keer op 25 Desember 1858 in Parys aangebied in die Madeleine-kerk.

Die soliste van die Rheinberger Suite is Jan Beukes (orrel), Anmarie van der Westhuizen (tjello) en Samson Diamond (viool). ‘n Unieke kombinasie van soliste sing in die Saint-Saëns Oratorio met Kimmy Skota (sopraan), Teresa de Wit (mezzo-sopraan), Mariëtte Pitout (alt), Albertus Engelbrecht (tenoor) en Thesele Kemane (bariton). Albei hierdie werke word uitgevoer onder leiding van Alexander Fokkens.

Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za