LANI FOUCHÉ
Bring die kunstenaar in jou kind uit
Omskep ’n kamer in jou huis in ’n ‘kunsateljee’ vir ’n hele dag. Moet jou vir ’n slag nie bekommer oor vuilkolle of ’n gemors nie – sulke aktiwiteite hou nie net jou kinders besig nie, maar ontwikkel ook hul kunstalente.
Gebruik ’n groot stuk papier of die agterkant van ’n groot plakkaat om teen die muur te plak. ’n Handige wenk is om eers die hele muur en vloer met koerantpapier te bedek om te verseker dat ’n glibberige handjie nie per abuis verf op jou muur of mat laat beland nie. As jy nie ’n groot stuk papier het nie, sal jy heel waarskynlik een by jou naaste drukkery kan koop.Plak die papier op die muur – op ’n hoogte wat jou kind sal toelaat om tot bo haar kop en onder haar knieë te verf. Laat jou kind waterverf gebruik om ’n meester-kunswerk te skep na hartelus!
Hou ’n skattejag
Kies ’n klompie speelgoed of voorwerpe waarmee jou kinders vertroud is en steek dit weg in jou huis of tuin. (Die tuin is soveel meer pret – en die son se D-vitamiene kan jou kroos net goed doen! As dit reën, hou ’n binnenshuise skattejag).
Teken die versteekte objekte op ’n stukkie papier, byvoorbeeld ’n beker, teddiebeer, skoen, ens. Vir elke objek wat hulle vind, kry elkeen ’n belonging, soos ’n lekkertjie of ’n punt. Hiervoor sal hulle hul breinkrag moet inspan en as jy meer as een kind het, is die gesonde kompetisie ’n aanwins.
Wenk: Wees versigtig om jou kinders se gunsteling speelgoed sommer weg te steek. Terwyl sommige kinders dit as ’n heerlike uitdaging sien, vind ander dit traumaties as hul gunsteling beertjie of kombersie weg is.
Ontdek klanke
Gebruik ’n bandopnemer om verskillende geluide saam met jou kind op te neem. Dié klanke kan uit enige omgewing afkomstig wees, van binne jou huis tot in die tuin of by die inkopiesentrum. Dié geluide kan jou kind se eie stem insluit, ’n deur wat toemaak, water wat loop, ’n hond wat blaf, motors wat ry of mense se gedruis in ’n winkel.
Speel dit dan vir jou kind terug en kyk hoeveel klanke sy kan identifiseer. Die lekkerte van hierdie speletjie is dat dit nooit vervelig raak nie – neem elke dag nuwe klanke op om jul versameling uit te brei!
Maak klei
Ons almal het grootgeword met die jarelange staatmaker vir peuters en kleuters – speelklei! Wanneer klei in ’n kind se handjies geplaas word, is die kind onmiddellik gemotiveerd om die sagte en reaktiewe kwaliteite daarvan se ontdek. Die klei reageer op elke aksie wat die kind se handjies uitvoer, en daardeur leer die kind dat ’n aksie ’n reaksie het. Dit doen ook wondere vir die kind se hand-oog-koördinasie. Nog voordele van speelklei is dat dit help om jou kind se vingertjies, handjies en gewrigte te versterk. Kinders leer om beheer oor hul hand- en armbewegings uit te oefen. Dit is ook goed vir hul verbeelding, omdat hulle vormpies met die klei maak.
Maak só gekleurde speelklei tuis:
Meng een koppie water, een eetlepel olie, kremetart en voedselkleursel saam en verhit in ’n pan. Verwyder van die plaat en voeg die meelblom by. Knieg die mengsel tot dit glad is. Die kremetart is ’n belangrike bestanddeel omdat dit die klei tot ses maande langer laat hou. Stoor die klei in ’n lugdigte sakkie of houer.