GEORG VAN ECK
Die einde van ’n la-a-a-ng rugbyseisoen en die gevolge was duidelik waarneembaar Saterdag in die halfeindstryd om die Absa Curriebeker op Kingspark in Durban waar die Haaie met Pat Lambie as veggeneraal die Toyota Vrystaat Cheetahs met 33-22 uitgeskakel het.
Die KwaZulu-Natallers reis nou na die Kaap waar hulle die Westelike Provinsie eindstryd om Saterdag 17:10 op Nuweland gaan pak.
Vir die Vrystaters is die rugbyseisoen verby. Dit was ’n uitstekende seisoen waarin die Toyota Cheetahs hul beste vertoning nog in die Superrugbyreeks gelewer het. Springbokke is opgelewer het en jong spelers is hardebaarde gemaak. ’n Plek in die eindstryd om die Goue Beker sou die kroon vir Adriaan Strauss en sy trop op die uitmergelende seisoen gespan het.
Die inherente swakheid van die Cheetahs, hul klein spangroep, waar die luukse van ’n gesonde rotasiebeleid kwalik toegepas kan word, was ook een van die hooffaktore van hul ondergang teen die vurige Haaie.
Die tam Vrystaters het in Durban met rukke en stote gespeel. Soms soos moontlike kampioene gelyk net om dat weer kanse om punte aan te teken deur hul vingers te laat glip weens oordeelsfoute en gebrek aan konsentrasie.
Die feit is dat Lambie se uitstekende skopwerk – takties en pale toe – die Vrystaters vir groot dele van die wedstryd in hul eie gebied vasgepen het. Nogtans het die Vrystaters drie drieë gedruk. Dit is ’n getuigskrif van hul veggees.
Robert Ebersohn het op ’n hoogtepunt afskeid van die Vrystaters geneem. Hy was weer op binnesenter die spil waarom baie van sy span se aanvalle gedraai het. Hy gaan die volgende drie jaar in Frankryk rugby speel en om ’n plaasvervanger vir hom te vind asook om die oefengroep te versterk gaan van Naka Drotské se grootste uitdagings vir 2014 wees.
Die losvoorspelers van die Vrystaat, Labuschagne, Philip van der Walt en Boom Prinsloo het ’n barshou gespeel. Dieselfde geld Strauss en Lood de Jager in die agttal.
Agter was Ebersohn, Johann Sadie en Raymond Rhule gevaarlik. Sarel Pretorius is egter op skrumskakel gemis. Die Bok Piet van Zyl het sy plek goed volgestaan, maar beskik nie oor die vermoë om meer as een verdediger besig te hou met sy onvoorspelbaarheid en skerp breekslae nie.
Alle in ag geneem was die Haaie met Lambie aan die voorpunt hierdie keer net te sterk vir die Vrystaters.
Punte:
Haaie 33 (16). Drieë: Pat Lambie, Jacques Botha, Heimar Williams. Doel: Lambie (3). Straf: Lambie (4). Toyota Vrystaat Cheetahs 22 (7). Drieë: Lappies Labuschagne, Johann Sadie, Schalk van der Merwe. Doel: Riaan Smit, Johan Goosen. Straf: Goosen.
Ander uitslae:
Bledisloe-beker: All Blacks 41 Wallabies 33. Promosie/relegasie Curriebeker: Griekwas 21 Poemas 19.
Bepalings:
Absa Curriebeker-eindstryd: Saterdag om 17:10 WP teen KZN Haaie op Nuweland.
Tweede promosie/relegasie-wedstryd: Vrydag om 19:10 Griekwas teen Poemas in die Mbombela-stadion.