Genade, seën maak hokkieskool puik

0
1422
Elsie Coetzer saam met Charné Spalding, van BVHS, wenner van die 0/14 meisies.

Die Elsie Coetzer-hokkieskool se afrigtingstoernooi is vanjaar vir die 27ste jaar aangebied met 60 spanne van regoor Suid-Afrika wat in Bloemfontein deelgeneem het.

Wat die toernooi merkwaardig maak is dat in 2020, 126 spanne van regoor Suid Afrika die toernooi sou bywoon, wat dit die grootste toernooi in Suid-Afrika sou maak. Ongelukkig is dit as gevolg van Covid-19 gekanselleer.

Die toernooi het jaarliks ‘n tema en vanjaar se tema is: Elke persoon hou 3 beloftes in jou hand. Dit is talente en gawes, ondervinding en omstandighede, en laastens, wonderwerke.

Die toernoei word jaar na jaar as suksesvol bestempel en Elsie Coetzer, die eienaar van die hokkieskool, meen dit is net genade en seën van die Here. “Die genade en seën van ons Hemelse Vader is oneindig groot. Dit is verseker die rede vir die verstommende sukses. Daarom gee ons in alle nederigheid alle eer aan Hom. Die gehalte ECHS beamptes speel ‘n baie groot rol in die sukses, asook die skole wat bywoon se bestuurspanne se bereidwilligheid om te groei en te verbeter.”

Nie net word die suksesvolle toernooi in Bloemfontein aangebied nie, maar daar vind ook toernooie in Bethlehem en Ceres plaas. Die skool bied ook naweek-klinieke regoor die land aan.

Die toernooi identifiseer jaar na jaar uitstekende hokkiespelers. “Daar is soveel talent, nie net in Bloemfontein nie, maar ook in die res van Suid-Afrika, wat smag na geleenthede en die regte afrigtingstegnieke om hul hokkie te ontwikkel. Dit gaan gepaard met ECHS se leuse – jou potensiaal is ons passie! ”Na 31 jaar se bestaan en ondervinding, het ECHS die kuns bemeester om elke speler en elke span te help om hul volle potensiaal te bereik. ECHS lewer jaarliks talle Provinsiale en SA spelers op. En die ander gesig agter die sukses van die skool?

“Morné Odendaal is die hoofafrigter van ECHS. Sy sukses spreek vanself as in ag geneem word dat Oranje Meisies se eerstespan die afgelope agt jaar nommer een in SA is. Hy deel graag sy suksesresep met ander.”

Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za