Genade in Aksie help Bfn-gemeenskap tydens inperking

0
473

Genade in Aksie (GIA) in Bloemfontein, het die afgelope ruk behoorlik hul naam gestand gedoen deur hope kos en ander benodigehede op die regte tyd aan minderbevoorregtes in die gemeenskap uit te deel.

Maureen Oosthuizen van GIA sê hoewel hulle heelwat donasies ontvang het, soos klere en ander benodigehede,  bly  kos maar die grootste nood onder mense tydens die inperking.

Oosthuizen het aan Bloemfontein Courant gesê dat GIA dié naweek  weer met kos, koeldrank asook baie liefde gaan uitreik na mense wat in nood verkeer.

Sy sê ‘n bekende slaghuisgroep het GIA gekontak en aangebied om saam met die organisasie te werk om die gemeenskap te help. Die slaghuisgroep het ingestem om groente en koeldrank te skenk. Van die klante wat vleis by hulle koop, het ook skenkings vir Bloemfontein se behoeftiges gedoen. Die slaghuisgroep het ook ander ondernemings uitgedaag om in hierdie tyd na GIA of ‘n welsynsorganisasie van hul keuse uit te reik.

Genade in Aksie werk gewoonlik in baie areas en bedien kos van huis tot huis. Oosthuizen sê dié naweek bedien hulle kos in Oranjesig, waar hulle van die gemeenskapspark asook die karavanne gaan werk.

“Hierdie is maar een van die uitreikings. As ons kos het, bedien ons elke dag soveel mense moontlik in verskillende areas, soos Langenhovenpark, Pellisier, asook ander dele van Bloemfontein,” sê Oosthuizen.

Sy het haar opregte dank uitgespreek teenoor alle partye wat sover hand by gesit het.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za