Gemeenskap is keelvol vir vuil strate

0
1285
Inwoners van Heidedal is al keelvol vir die vuil strate en aaklige reuke. FOTO'S: PIERCE VAN HEERDEN

Verskeie inwoners van Heidedal is ongelukkig met die dienste wat DA-raadslid vir Wyk 16, Attie Terblanche, aan Heidedal bied.
Susan Pienaar het laat hoor “genoeg is genoeg”. “Heidedal is vuil en dit stink. Dit is ‘n seer oog vir almal om na al die rommel in die strate te kyk. Die oumense word ook siek. Daar word aan ons belowe dit sal gedoen word, maar niks word gedoen nie. Ons moet eers vir alles betaal voordat enigiets gedoen word,” meen sy.
Pienaar en ook ander inwoners blameer vir Terblanche dat niks gedoen word nie. “Hy belieg ons en hy maak van ons bobbejane!”

Daar is oral riole wat oorloop in die strate van Heidedal.

Pienaar meen hulle vra al so lank dat iets net gedoen moet word sodat Heidedal beter lyk en ruik, maar hulle woorde val op dowe ore. “Die vullis is nie die enigste probleem nie. Baie van die strate is donker omdat daar nie ligte is nie. Wat as iemand verkrag word hier? Gaan daar dán iets gedoen word?”
Pienaar vra ook wanneer daar robotte geïnstalleer gaan word by verskeie verkeerspunte. “Die karre ry in huise vas en daar is al kinders raakgery,” sê sy.
Terblanche meen die storie kom al ‘n lang pad. “Die woonbuurt word skoongemaak, maar dan sal die mense die volgende dag weer rommel strooi. Die inwoners van Heidedal moet ons oë wees en help kyk na mense wat hul vullis oral neergooi.”
Hy noem ook dat as die vullistrok nie dadelik verbykom nie, mense hul rommel in die veld gaan gooi.
Terblanche het ook al verskeie kere met die Mangaung Metro Munisipaliteit gepraat. “Hulle maak net leë beloftes. Die mense moet onthou dit is ‘n ANC-munisiplaiteit, nie ‘n DA-munisipaliteit nie.”
“Ek probeer my bes, maar die probleem lê by die munisipaliteit, ek kan net ‘n probleem aanmeld, en hulle moet die saak verder vat! Die mense wil hê ek moet wonderwerke verrig, maar ek kan nie. Ek het al die gemeenskap gevra om saam te staan om Heidedal skoon te maak, maar niemand het teruggekom na my toe nie.”

JERETHA OOSTHUIZEN
jeretha@mahareng.co.za