Gemeenskap gevra om Bfn warm te hou

0
461
Hester Bekker

Guardian and Angel, ‘n nie-winsgewende organisasie (NWO) in Bloemfontein wat na minderbevoorregtes in en om die stad uitreik, skop vanjaar sy winterprojek af met die hoop dat baie behoeftiges gehelp kan word om warm te bly.

Die organisasie bestaan uit mense wat in alle opsigte beskermengele is vir diegene wat hulle nodig het en doen baie vir die gemeenskap, onder meer deur hulpverlening met kos, klere, linne en meubels, terwyl hulle ook mense wat by dokters moet uitkom, bystaan met vervoer.

Volgens die uitvoerende hoof en stigter van die organisasie, Hester Bekker, vra hulle mense om hul harte oop te maak en om aan boord te kom om van die projek ‘n groot sukses te maak. Sy vra dat die gemeenskap hulle sal help met komberse, warm klere, skoene en kos vir minderbevoorregtes. Donasies word ook benodig vir babas sowel as bejaardes.

“Mense kan ons ook help sop maak, hulp sal baie waardeer word,” sê Bekker. Sy het verder verduidelik dat hul doel met hierdie projek is om te probeer dat almal hierdie winter warm is, nie honger ly nie en gesond bly.

“Donasies sal vir seker aangewend word om seker te maak almal wat komberse, warm klere of kos nodig het, gehelp word.” Sy sê ook dat saam met die projek, hulle vir almal bid sodat hul beskerm sal wees teen Covid-19.

Hierdie jaar het Guardian and Angel hande gevat met MedFm om hulle by te staan met die projek en ‘n sukses daarvan te maak. Vir meer inligting, soos waar om om af te lewer, kan Bekker gekontak word by 072-423-6277.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za