Gemeenskap geskok deur skielike dood van professor

0
2724
Prof. Marian Tredoux, medeprofessor in die Departement Geologie, Universiteit van die Vrystaat. Foto: Rulanzen Martin

Huldeblyke stroom in na die dood van die bekende prof. Marian Tredoux van die Universiteit van die Vrystaat (UV). Tredoux was medeprofessor in die Departement Geologie en ‘n hoogs gerespekteerde professor en deskundige op haar vakgebied. Sy is op Saterdag 19 Januarie 2019 weens hartversaking oorlede.

Diana van Rooyen, suster van Tredoux, het in ‘n eksklusiewe onderhoud met Bloemfontein Courant gesê dat sy baie deur die familie gemis sal word. “Sy was my rolmodel, sy het my geïnspireer, sy sou altyd mense met haar mooi persoonlikheid lok en het ‘n wonderlike algemene kennis gehad. Sy het soveel van verskillende onderwerpe geweet,” het Van Rooyen gesê.

Tredoux was ook ‘n musiekliefhebber met kennis van alle musiekgenres. Sy kon volgens Van Rooyen pragtig klavier speel. Tredoux het as oudste van vyf kinders ‘n belangrike rol in haar familie gespeel. Sy was oorspronklik van Bellville in die Kaap en was twaalf jaar deel van die UV.

Een van die hoogtepunte in Tredoux se loopbaan is dat ‘n nuwe mineraal, “Tredouxite”, na haar genoem is. Sy het hierdeur erkenning ontvang vir 30 jaar se verbintenis om die geologiese geskiedenis van die rots, wat in Mei 2017 in die Barberton-streek in Mpumalanga gevind is, uit te vind.

Die naam is gekies deur die span van die Departement Geologie wat die mineraal geïdentifiseer het, bestaande uit dr. Federica Zaccarini en prof. Giorgio Garuti van die Universiteit van Leoben, Oostenryk, prof. Luca Bindi van die Universiteit van Florence, Italië, en prof. Duncan Miller van die UV.

Prof. Tredoux was ‘n internasionaal erkende geleerde in geologie; sy was wyd gepubliseer oor studies wat in die Barberton Greenstone-gordel uitgevoer is in gesogte tydskrifte soos die Chemical Geology and Mineralogical Magazine.

“Prof Tredoux was ‘n uitsonderlike navorser met ‘n enorme passie vir geologie. Sy het baie studente deur hul nagraadse studie en verder begelei en gelei. Sys al baie gemis word, ” het prof. Danie Vermeulen, dekaan van die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe aan die UV, gesê. – Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za