Geliefde omroeper palm radiotoekenning in

0
877
Mienke van Rooyen

Die Rosestad se passievolle 23-jarige Mienke van Rooyen is onlangs aangewys as wenner van ’n Bright Star-toekenning in die jaarlikse Radio Awards.

Dié voormalige Mej. Vrystaat en huidige aanbieder van die program The Joyride op OFM is van kleins af mal oor debat en redenaarskompetisies. Sy is oortuig daarvan dat dit haar gemotiveer het om haar stem te gebruik en só mense se harte aan te raak.

Die kategorie, Bright Stars, is vir opkomende “sterre” in die radiobedryf wat 26 jaar of jonger is en oor die lug werk. Dit erken individue met ’n inherente begrip en liefde vir dié medium en wat respek het vir die radiobedryf se verlede maar ook goeie ideale vir die toekoms koester. Mienke glo hierdie geleentheid het oor haar pad gekom om aan ander jong mense te bewys dat jy enigiets kan doen as jy jou hart daarop sit.

“Van ’n jong ouderdom af het so baie mense my gekomplimenteer vir my stem, terwyl ander in hul mou gelag het daarvoor. Ek het nog altyd ’n basstem gehad wat hard klink, harder as die van ander meisies van my ouderdom.

“Dit het veroorsaak dat ek vir ’n ruk lank in my hoërskooljare ietwat van ’n minderwaardigheidskompleks ontwikkel het, maar in matriek (2014) het ek besluit om die situasie vir myself om te draai. Ek het besluit dat hierdie stem van my eendag gaan geld maak vir my. Ek was vasbeslote om my basstem te gebruik om ’n verskil te maak, en wat beter as radio om dit reg te kry? So het ek myself meer geleer oor radio en al hoe meer daarna begin luister om seker te maak ek weet genoeg van dié medium,” vertel sy.

Volgens Mienke skep dié toekennings ’n geleentheid vir Suid-Afrika om eerstens radio as ’n geheel te vier en die impak wat dit op ons lewens het, te erken. Sy sal op 17 April 2020 vanjaar haar toekenning ontvang. Om meer van hierdie Bloemfonteinse roos te hoor, skakel in op The Joyride op OFM.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za