Die Bloemfonteinse atletiekgemeenskap herstel nog van die skok na die skielike dood van die bekende Bloemfonteinse atletiekfafrigter en -joernalis, Rufus Botha.
Volgens Anton Nicolaisen, ‘n goeie vriend van Botha, is Botha omstreeks 08:00 vanoggend aan ‘n hartaanval dood.
“Rufus het vanoggend begin sleg voel en sy seun, Leon, het met hom na Netcare-Universitas-hospitaal gejaag. Hy het egter by die hospitaal aan ‘n hartaanval beswyk,” het ‘n hartseer Nicolaisen aan Bloemfontein Courant gesê.
Met die afsterwe van sy pa, die legendariese afrigter, Leon Botha, het Botha die leisels oorgeneem en sy pa se atletiek-nalatenskap met groot ywer voortgesit. Botha, wat ‘n puik atleet in eie reg was en in ‘n stadium ‘n rekordhouer in die die 1200 m was, het verskeie plaaslike en nasionale kampioene afgerig. Hy het ook talle SA titels op sy afrig-kerfstok gehad.
Bloemfontein Courant se sportskrywer, Morgan Piek, onthou Botha as een van die land se mees passievolle en kundige atletiekjoernaliste.
“Behalwe dat ons joernalistieke kollegas was, was Rufus ook een van my beste vriende. Hy was wyd gerespekteer in die atletiekgemeenskap. Hy was lojaal en lief vir elkeen van sy atlete en hulle was nog liewer vir hom.
“Rufus het ook ‘n baie sterk band met Ans Botha, afrigter van Wayde van Niekerk, gehad. Hy het altyd mense spesiaal behandel. Selfs in tye wanneer hyself nie te waffers gevoel het nie, het hy altyd tyd gemaak vir ander mense, en hy het altyd geweet hoe om jou dag op te kikker,” het Piek gesê.
Christel Basson, hoofbestuurder van Mahareng, uitgewers van Bloemfontein Courant en Get It Magazine, sê dit is met absolute skok dat Courant verneem het van Rufus se heengaan.
“Rufus het gereeld vir Bloemfontein Courant as vryskutjoernalis geskryf. Ek het hom leer ken as ‘n afrigter met soveel hart vir sy atlete en hy het atlete het hul statieke op die punte van sy vingers geken.
“Dit het my altyd op byeenkomste verstom aan die kennis wat hy oor mense gehad het. Hy sal onthou word vir sy humor langs die baan en sy bekende joviale stem. Sy plek sal op verskeie vlakke leeg wees met sy skielike heengaan. Hy sal altyd onthou word,” het Basson gesê.
Volgens Nicolaisen sal Botha waarskylik Saterdag in Bloemfontein ter ruste gelê word. Botha word oorleef deur sy twee seuns, Leon en Nico.
Pieter Delport