Geleentheid vir plaaslike kunstenaars

0
615
Francois Bouwer

As jy ‘n plaaslike kunstenaar is wat voel dat daar nie genoeg geleenthede in die Rosestad is vir optredes nie, dan het ons goeie nuus vir jou.

Die organiseerders van die Bloem Night Market nooi alle plaaslike kunstenaars wat graag ‘n platform soek en in 2020 by die mark wil optree, om met hulle in verbinding te tree by 051-451-1913.

Die Bloem Night Market word elke eerste Vrydagaand in die maand by Urth Garden Centre gehou.

Risna Opperman, eienaar van Urth, sê plaaslike kunstenaars sit met reuse-uitdagings aangesien die mark klein is en nie noodwendig gereeld geleenthede bied vir kunstenaars om op te tree nie. As hulle dan geleenthede kry, is dit soms vir baie klein gehore wat nie altyd te komplimenterend is nie.

“Gelukkig is daar plaaslike ondernemings wat geleenthede skep om talent die geleentheid te gee om hulself aan die publiek bekend te stel. Plaaslike kunstenaars soos Simple Stories, wat nou besig is nasionaal vir hulself naam te maak, is van die vele jong kunstenaars wat sulke geleenthede met albei hande aangegryp het.

“As ons plaaslike talent kan ontgin en op die nasionale platform sit, dien hulle almal as ambassadeurs vir Bloemfontein en bou so aan die Rosestad as handelsmerk. Almal vind baat daarby,” sê Opperman.

Twee ander bekende plaaslike kunstenaars kry by die volgende Bloem Night Market op 6 Desember geleentheid om gehore te beïndruk, naamlik Wesna Steenkamp en Francois Bouwer. Albei is gereelde gesigte by die mark. Bouwer het juis nou begin opgang maak met sy enkelsnit, “Magteloos”, wat in hierdie stadium die tweede plek op EasyPoll.net beklee.

info@bloemfonteincourant.co.za