Die Kovsies se eerstejaarsatletiekbyeenkoms op Pelliespark op die kampus in Bloemfontein het weliswaar nie die beste vertonings in die geskiedenis van dié byeenkoms opgelewer nie, maar die “wenner” van die byeenkoms was die skitterende gees en dissipline wat onder die onderskeie Kovsie-koshuise geheers het.
Francois Snyman (Vishuis) was onder die manne die groot uitblinker toe hy in die hoogspring sierlik op ’n puik hoogte van 1.98 meter oor die dwarslat geseil het. Nog ’n Vishuis-inwoner, Francois Rossouw was tweede met 1.85 meter.
Lizzy Kriel, wat haar as een van die land se kookwater jeug- en junior hekkies en naelope atlete gevestig het, het met ’n goue driekuns losgetrek.
Kriel het die 100m-hekkies vir vroue in 16.6 gewen en die tweede atleet Ingrid Griesel (Con Laures, 18.5) maklik pak gegee.
Kriel het haar boonop gewys dat sy die vinnigste eerstejaar onder die Kovsies se skonergeslag is toe sy die 100m in 12.6 gewen het.
Kriel het haar driekuns voltooi toe sy nóg ’n wegholoorwinning in die 200m losgenael het in 27.4 Kriel het ook ’n reuse aandeel in haar koshuis (Wag ’n Bietjie) se oortuigende oorwinning in die 4×100-aflos in 54.9 gehad.
Carina Meyer (Marjolein) kan in ’n puik verspringer ontwikkel ná sy dié nommer met ’n poging van 5.05 meter gewen het.
Cecile Meyer (Wag-’n-Bietjie) kan in dieselfde asem in die gewigstoot vir haar naam maak in die toekoms. Sy het dié nommer met ’n goeie 12.09 beklink.
In die spankompetisie vir mans het JBM Hertzog (68 punte) verras deur die verdedigende kampioen, Veritas (65 punte) te klop én die Geestrofee verower. Vishuis was derde met 52 punte.
Wag-’n-Bietjie (82) het die vroue-spankompetisie gewen met Roosmaryn (49) en Marjolein (39) onderskeidelik tweede en derde.