Owen Kock
Bloemfontein. – Die Bloemfonteinse polisie sê daar is geen bewyse dat ‘n vrou wat Saterdagoggend in haar huurkamer in Langenhovenpark vermoor is, ‘n sekswerker was nie.
Vrystaatse polisiewoordvoerder, Chaka Marope sê die vrou se identiteit is ook nog nie vasgestel nie. Hy sê die vrou het sowat twee weke gelede by AG Visserstraat 10 ingetrek. Die eienaar van die huis, Piet Strydom, verhuur glo verskeie van die kamers in sy huis uit. Marope sê in die stadium is die polisie op soek na ‘n manlike verdagte.
"In die stadium is daar geen nuwe inligting beskikbaar nie aangesien ons besig is met die ondersoek. Wat betref die beweringe dat die vrou ‘n sekswerker was, dat kan in die stadium ook nie bevestig word nie en daar is ook geen ander verdagtes nie," het Marope bygevoeg.
Strydom is glo deur die vermeende moordenaar met ‘n vuurwapen aangehou en het sy been beseer toe hy probeer vlug het. Hy het aan OFM Nuus gesê dat hy meer as 40 steke aan sy been gekry het.
Strydom is deur die polisie gevra om geen kommentaar in die media te lewer aangesien die ondersoek glo in ‘n sensitiewe stadium is.